Showing posts with label Goed wat ons doen. Show all posts

Linnae se skets proses - stap vir stap



Vandat Ouma Estelle hier was met Aiden se geboorte het Linnae 'n behoorlike "teken stasie", en sy geniet dit vreeslik om te teken en plakkers te plak. Haar proses is ietwat uniek en kostelik, so ek het gedink om dit met jul te deel.

Dit begin gewoonlik met haar wat my met groot oë en 'n groter glimlag aankyk en opgewonde sê-skree: "Dauw! Dauw!" (vertaling: Draw! Draw!). Dan vra ek, net om te bevestig dis wat sy bedoel, "Wil jy teken?" Indien dit so is, gee sy haar "Aaaaah!" gilletjie wat beteken sy is baie beïndruk met my insig en opgewonde oor die vooruitsig om haar plan in werking te sit. Dan hardloop sy vooruit na haar tafeltjie toe waar sy begin wys en beduie wat sy wil hê en presies hoe sy dit wil hê.

As ek die korrekte papier en penne/potlode/kryte/koukies uitgehaal het, dan vat sy gewoonlik ywerig een in die hand, pause dramaties bo die papier, en hou die ding dan na my uit met die kreet, "Help! Help!" (vertaling: Ek sal mooi verduidelik terwyl JY hier teken)

Dan begin die pret.

Kunswerk deur Linnae en mamma Elmi (12 Mei 2015). Linnae was hier 21 maande oud.

Number 1Die eerste ding wat sy altyd sê is "Boom! Boom!". Wanneer ek die boom klaar geteken het, sê sy "Appel! Appel!" en wys na die boom. Dan moet ek 'n klomp appels in die boom teken. As daar 'n oop gaatjie op die blare is, sal sy daarop druk en "Appel!" sê tot ek al die gaatjies gevul het met appels.

[Ek het vandag 'n olyfboom en 'n piesangboom geteken net vir afwisseling. Sy kon nie ophou om ôh-ôh te sê oor die olywe wat op die grond geval het nie .]

Number 2Dan druk sy haar vingertjie op die papier langs die appelboom en sê "Gwoot! Gwoot!" (=groot). Dan moet ek 'n groot appel langs die boom teken. Vir een of ander rede verskaf dit vir haar groot plesier, en spandeer sy eers 'n minuut of twee om om die beurt na die groot appel en klein appels te wys en te sê, "Gwoot!", en dan "Kyyyyyyyyn!" (=klein, gesê in so 'n hoë, piepstemmetjie terwyl sy die woord uitrek.)

Number 3Nou vir die volgende prentjie, wat enigiets kan wees, van blomme na vrugte na familielede. Op hierdie kunswerk was Oupa eerste. Sy't vir my die geel koutjie aangegee en gesê "Oupa! Oupa!". Ek het haar probeer aanmoedig om ook te teken, en dis hoe ons by #4 uitgekom het.

Number 4Daardie bruin gekrap is Oupa se hare. Ek het soos gewoonlik met 'n sirkel begin vir die gesig en toe die mond en oë gedoen. Ek was nog besig daarmee, toe begin sy met die bruin koukie Oupa se hare invul, want Linnae hou daarvan om nuttig te voel. Maar sy het ook 'n behoefte aan orde, en toe sy sien haar poging lyk nie soos Mamma s'n nie, was sy glad nie beïndruk nie, en ek kon haar nie weer oortuig om my te help teken nie .

Number 5Toe kom die res van die mense. Sy sal hul naam so twee keer uitroep en dan wys op die papier waar ek hul moet teken. Gewoonlik is die volgorde totaal random, en die mense wat sy kies verskil van prent tot prent. Sy vra baie keer dat ek Gloria moet teken, terwyl dit die eerste en laaste keer was wat sy ooit vir Connor gevra. Ek probeer ook om die mense verskillend te teken. Ek teken bv. baie keer vir Pappa (Johan) in sy swemklere met 'n body board in die hand, of vir Ouma (Estelle) met 'n emmer en grafie (omdat hul altyd saam strand toe gegaan het) of met haar selfoon in die hand (want sy was nooit sonder die ding nie—as sy nie besig was om 'n speletjie daarop te speel nie, het sy vir Linnae video's daarop gewys).

Number 6Ek was nog besig met die figure, toe begin sy om versigtig 'n plakker op elke persoon te plak. Ek vra toe vir haar wat dit is, en sy sê, "Boekie! Boekie!" So, elke persoon het 'n boek gekry om te lees.

OP 'N SOORTGELYKE NOOT...

Genotvolle dag by Kamers Vol Geskenke

#Kamers2014 selfie!
Ek en Henriëtte het Saterdag (8 November) Kamers Vol Geskenke toe gegaan. Dit is basies 'n massiewe crafts en kos mark wat een keer 'n jaar vir 'n volle week in Stellenbosch en Pretoria onderskeidelik gehou word. Die goed wat hul daar verkoop is van die hoogste standaard (geen afskeep vakmanskap wat maklik met crafts kan gebeur nie) en ek het my verkyk aan die kreatiwiteit wat mense voorendag lê.

Henriëtte by die ingang
Wat grootliks bygedra het tot die dag se sukses was dat Johan vir Linnae gehad het, en dié twee en Stephen het soveel pret gehad dat sy die hele dag deur gegaan het sonder om my een keer te mis! Hulle het gaan berg klim, in die see gaan swem, gebraai, en allerhande ander dinge wat hul almal heeltemal uitgeput het. Dit was Linnae se eerste vol dag sonder my en ek was aanvanklik bekommerd daaroor, maar nou weet ons sy kan heerlik saam met haar Pappa kuier sonder probleme! :D

Kamers was amazing. Dis definitief iets wat ek elke jaar sal wil bywoon as ek kan. Die produkte was ongelukkig meestal aan die duur kant, maar daar is tente en tente vol unieke, pragtige, inspirerende goed wat mens se mond laat water. Dan is daar natuurlik die menige kos stalletjies met rêrig iets vir almal.

Kon amper nie hierdie stel strooi kussings weerstaan nie...
Kyk net hierdie pragtige teëls
Hierdie bord gaan my Studio se naambord word




Meeste van my aankope was Kersgeskenke, dis hoekom ek nie enige foto's daarvan wys nie — wil nie die verrassings weggee nie ;)

OP 'N SOORTGELYKE NOOT...

Linnae by die see (Scrapbook bladsy)

Aah, vandag het ek actual familie nuus om te deel.

Johan is besig om Linnae te leer van die see, en elke keer wat ons strand toe gaan geniet sy haarself gate uit! Johan hou haar gewoonlik vas en stap dan kniediep in die see in. Linnae is telkens betower deur die water wat onder haar deurspoel, en die golwe wat nooit ophou beweeg nie, en raak so opgewonde dat sy kraai van genot en haar twee beentjies so styfskop.

Ek neem natuurlik net foto's en sorg dat ek droog (en warm!) bly ver van die water se rand af :P .

Krediet: Digitale papierpak "Happy Days" deur Wishing Well Creations (gekoop via Pixels and Company)

OP 'N SOORTGELYKE NOOT...

My lewe in 'n skoendoos


Die tyd om sak en pak te verhuis het uiteindelik aangebreek: na 'n maand van pak en laaste verpligtinge nakom, is ons uiteindelik oppad Hermanus toe. Dis amper vreemd om te dink dat ons van more af nooit weer na ons huisie in Pretoria sal verwys as "huis" nie.

Om te trek is 'n merkwaardige mylpaal in die lewe. Dis soos om skielik remme aan te slaan in die middel van die snelweg en soos 'n besetene 'n u-draai oor die middelman te maak.

Die eerste ding wat gebeur is dat diep oomblikke van introspeksie jou toeslaan. Skielik besin jy oor jou lewe, en kry jy baie redes om spyt te wees oor al die goed wat jy nooit by uitgekom het nie, al die mense saam met wie jy nooit gekuier het nie, en al die geleenthede wat jy nooit nagejaag het nie. En terwyl jy so jou besittinkies oppak ontdek jy goed uit jou verlede wat vir nege jaar in 'n hoek gelê en stof opgaar het en 'n nuwe vlaag van diep denke in jou opwakker. Dan moet daardie herinnering in 'n boks gepak word sodat dit in 'n nuwe dorp kan lê en stof opgaar, heel vergete vir die volgende nege jaar. Maar weggooi? *snak geskok na asem* Hoegenaamd nie!

Met al die meubels wat nou skielik weg is, is sulke dik lae stof vir die eerste keer in jare sigbaar op die plekkies waar niemand ooit kon skoonmaak nie (hoewel ek vermoed my Ma daar sou skoongemaak het; dis 'n ma vir jou). En jy besef ook hoeveel gemors jy opgegaar het sonder om ooit daaroor te dink. Ek sou nooit kon glo hoeveel goed in ons klein huisie kan inpas as ek dit nie self moes oppak nie.

Maar om te trek gaan nie net oor wat jy agterlaat of saamvat nie. Dis ook 'n tyd van vorentoe kyk. Dis 'n nuwe begin, 'n geleentheid om jou lewe af te stof en te polleer tot hy blink. Dis 'n tyd wanneer jy jou seëninge tel en dankbaar is vir wat jy het en waarheen jy oppad is.

Ek sien baie uit om in Hermanus te vestig -- ek spring omtrent uit my vel uit! Ek hoop net dat ek die guts sal hê om hierdie nuwe seisoen met beide hande aan te gryp. My grootste hoop is dat wanneer die volgende mylpaal verby kom, ek niks sal hê om oor spyt te wees nie. Maar soos Alan Platt gereeld sê, "Maak nie saak waar jy is nie, dáár is jy". Jy neem jou baggage saam, letterlik en figuurlik. Die goed wat jou in een deel van die land teruggehou het om jou drome uit te leef trek sak en pak saam na jou nuwe tuiste.

Ek wonder of mens ooit op 'n plek kan kom waar jy voel jy is nou volwasse, jy het "gearriveer"? Elke jaar is vir my net nog 365 dae wat verby is sonder dat ek voel ek het groot geword. Is ek die enigste een? Die liedjie "Potential" deur Chris Sligh verwoord ietsie daarvan, so ek los jul met hierdie (oop) gedagte.

Tot wedersiens.


"Potential" by Chris Sleigh

We were young, with hopes to last a lifetime
Burning dreams of anticipation
10 years on and we're still trying to figure out
what to be when we grow up
We're almost 30, still getting it together
Getting desperate
Is this gonna take forever?

Chorus:
Oh, does everybody feel this way...
Getting old but never growing up?
Oh, is there a destination waiting for me...
Where I can finally meet the [wo]man I'm meant to be?


We are young, with hopes that fade with ages
Life is full of empty pages
We're like a river, twisting and turning
But never finds the open sea

Chorus

Oh I need someone to show me
Where could I begin
Oh, I need someone to lead me
Hold my hand and take me
To where I've never been

I'm getting desperate
Is this gonna take forever

Chorus
 (Lyrics from www.6lyrix.com)

OP 'N SOORTGELYKE NOOT...

Israel Toer Dagboek (5 van 7)

ISRAEL TOER // Dag 5 // 6 Oktober 2010

Plekke waar ons was:
  • Jerusalem
  • Olyfberg: Tuin van Getsemáne, Basilika van Angs
  • Betlehem: Herdersvelde, Kerk van die Engele, Kerk van die Geboorte
  • "God is Groot" Gospel Gala (eerste aand) - al die kunstenaars wat saam was het opgetree; spreker was Angus Bachan

Die eerste ding wat ons vandag gedoen het was om die manjifieke gesig van Jerusalem in te neem. Daar is 'n spesiale area waar jy vanaf die Olyfberg bo-oor die Kidron Vallei kyk na die oostelike muur, met die Dome of the Rock se goue koepel wat oor die rant loer.

Foto van Jerusalem se oostelike muur

Verder op met die pad is die Tuin van Getsemáne, waar ons letterlik verdring was deur toeriste. Getsemáne beteken "oliepers", iets waarvan daar baie was op die Olyfberg in Jesus se tyd, so dit was nie die naam van 'n spesifieke plek gewees nie; daarom is die tuin waar Jesus gebid het gebasseer op Christen tradisie (en 'n tikkie raaiwerk). In die Tuin is daar 'n afgekampde olyfboord met bome wat baie eeue oud is, en pragtige reliefwerke wat die sandsteenmure versier oppad na die Basilika van Angs (Basilica of the Anguish). Die binnekant van die Basilika is in skemer gehul (want Jesus was daar in die nag), met 'n hoë dak wat die naghemel uitbeeld in donkerblou en goud, en slegs drie groot mosaïeke voor in die kerk (wat min is in vergelyking met ander kerke) wat die storie van die gebeure in Getsemáne vertel.

Israel Toer Album op Facebook

Maar wat hierdie kerk vir my besonders gemaak het was die atmosfeer wat die ligspeling geskep het. Meeste van die kerke probeer 'n stelling maak oor God met 'n ydelle, bombastiese vertoon van goud, en na 'n paar sulke kerke voel dit of hul op jou skree. Maar hiérdie kerk bly stil en kies om jou te laat ervaar. By die ingang is 'n metaalskerm voor die deur se opening in die vorm van 'n baie ou olyfboom. Die lig wat deur die gedraaide, krom takke na binne gesyfer het, het 'n prentjie geskep wat meer vir my siel gedoen het as 'n duisend goue mosaïeke in 'n honderd kerke.

Daarna was ons Betlehem toe. Vandag is daardie area onder Palistynse beheer, en moes ons dus ons geliefde toergids, Yuval, agterlaat en 'n plaaslike gids gebruik. Ons het begin by die herdersvelde, waar ons eerstens in die toegeboude grot 'n "diens" gehou het en almal 'n kans gehad het om te getuig, en toe na die Kerk van die Engele geloop het wat 'n entjie bokant die grot gebou is. Dis 'n eenvoudige kerkie met die mooiste skilderye wat reg rondom die muur die storie van die herders en die engele koor vertel. Daar het ons 'n paar liedjies gesing -- die plek is gemaak daarvoor! Dit was... wow!

Ons volgende stop was die Kerk van die Geboorte (Church of the Nativity), maar teen dié tyd was ons so moeg vir die bling en fakeness wat mens rondom die "heilige plekke" aantref dat meeste mense eerder iets anders wou doen -- énigiets anders. Ons arme gids het amper paniekbevange geraak. Sy hartsbegeerte was om ons gelukkig te hou en ons gedrag het hom totaal oorbluf gelaat, want watter Christen wil nou nié die geboorteplek van Jesus sien nie?

Gelukkig was daar darem 10 siele wat wou (insluitend ek en Shani), en toe kon hy darem als in sy vermoë doen om ons ervaring so genotvol moontlik te maak -- hy het tot gereël dat ons voor in die tou kan indruk om die geboorteplek te sien, anders sou ons meer as 'n uur moes staan en wag! Dit het hom natuurlik baie punte verdien in my boekie :) Vir die wat wonder waarvoor mens 'n uur in die tou moet staan: die geboorteplek van Jesus is 'n klein kamertjie (slegs 2 mense op 'n slag word toegelaat) met 'n houtkrip wat vanselfsprekend nie die oorspronklike is nie, en 'n ster wat op die vloer geverf is. Mense gaan in om na die krip te kyk, en dan aan die ster te vat en dit te soen (soos wat die gebruik is met heilige voorwerpe as jy Katolieke is). Dit is al.

Daarna het ons gids ons na 'n aandenkingswinkel van sy keuse gevat. Die winkel was ongelukkig een groot bling-fest (ons was duidelik nie die beoogde mark nie), en dit het hom 'n hele paar van daai swaarverdiende punte gekos. Ai, ons het vir Yuval begin waardeer.

Na 'n vroeë aandete was dit tyd vir die hoofrede hoekom hierdie hele toer gereël was in die eerste plek: die "God Is Great" (GIG) Gospel Gala!!

Hier is 'n opsomming in die vorm van 'n kort videoclip:


Ons het almal in die Ou Stad bymekaar gekom, waar Dr. Isak Burger die aand geopen het en ons deur die verpligte bedankings gesit het (o.a. van die Israeli amptenare wat die Gala moontlik gemaak het). Daarna het verskeie kunstenaars elk 'n song gedoen: Julius Magan, Danie Botha, Jan de Wet, Manuel Escorcio, Trevor Sampson, Staz (van Onbeskaamd), Bobby van Jaarsveld, Wian Vos, en John Niemand. Jan de Wet het sy bekende "Kyk na die Lam" gesing (wat Jesus se tog op die Lydensweg en Sy kruisiging vertel uit die oë van Simon van Sirene) en ek dink nie daar was 'n droë oog oor na die tyd nie.

Angus Bachan was natuurlik die spreker vir die aand, en soos gewoonlik het hy reguit en onbeskaamd gepraat. Hy het so 'n duidelike liefde vir die Jode -- een van daai Oom Angus sê-goed wat my laat lag het, was toe hy vir die Joodse amptenare gesê het, "I love the Jews. My best friend is a Jew - Jesus!"

Na oom Angus het Retief Burger en sy band 'n paar aanbiddingsongs gedoen en toe is die aand op 'n hoogtepunt afgesluit toe al die kunstenaars "Jerusalem" gesing het.




‹ Dag 4                                 Dag 6 ›

Foto Album         |         Index en Intro


OP 'N SOORTGELYKE NOOT...

Israel Toer Dagboek (4 van 7)

ISRAEL TOER // Dag 4 // 5 Oktober 2010

Plekke waar ons was:
  • Tel van Megiddo (ook bekend as "Armageddon")
  • Berg Karmel, waar Elia die Baäl profete verslaan het
  • Die antieke hawestad Caeserea
  • Aand inkopies in Jerusalem

Vandag het ons Tiberias verlaat oppad na Jerusalem, en met 'n skok het ek besef die toer is al oor die halfpad merk. In die bus het ons toergids ons meer vertel van die konflik in Israel, en hoewel dit baie interessant was, was dit ook geweldig kompleks -- ek was beïndruk met sy kennis en vermoë om kop te hou met al die datums en name.



Ons eerste stop was die Tel van Megiddo, 'n stad wat floreer het in die derde tot eerste eeu vC. as gevolg van sy sentrale ligging op die handelsroetes tussen Egipte en Babilonië/Assirië. 'n Tel is die "berg" (soortgelyk aan 'n mynhoop) wat vorm wanneer verskillende nasies 'n stad verower (en dus vernietig) en dan hul eie een bo-op die oorblyfsels bou. Oor 'n tydperk vorm dit lae wat ryk is aan geskiedenis. Megiddo bestaan uit 25 lae (wat besonder baie is...), waarvan laag #17 dié van koning Dawid is. Die stad was duidelik vooruitstrewend, en het gespog met sisteme en geboue wat gevorderd was vir sy tyd.

Megiddo is ook waar die slag van Armageddon gaan plaasvind (Armageddon beteken "Berg van Megiddo"). Daar is 'n oop vlakte aan die voet van die Tel waar van die hewigste veldslae van die Bybel se tyd plaasgevind het. Vandag lê daardie vlakte nogsteeds oop, asof dit net wag vir daardie groot finale slag van alle tye.

http://www.facebook.com/album.php?aid=241506&id=778908648&l=447712d4a5

Die volgende plek op ons roete het ook al geweld geken: berg Karmel, waar Elia die Baäl profete uitgedaag en verslaan het. Die Karmeliete klooster staan vandag daar, met 'n intimiderende standbeeld van Elia en 'n plat dak geboutjie waarop mense kan staan en oor die land uitkyk so ver as wat die oog kan sien.

Daarna het ons een van my gunsteling plekke van die toer besoek. Caeserea is 'n antieke hawestad wat deur Herodus die Grote gebou was om die Romeinse Keiser te vereer, en dit was 'n afskynsel van Athene en die Romeinse manier van leef. Herodus het in sy leeftyd 'n hele paar indrukwekkende plekke gebou, en Caeserea, so teen die helderblou van die Middelandse see, is 'n gesig wat jou asem wegslaan. Die foto hier onder was die oomblik waar Caeserea my hart gesteel het -- die skerp kontras van klip en water, van mens en natuur, van die verganklike en die onverganklike.

Foto van die uitsig oor 'n stukkie van Caeserea langs die oseaan wat my hart gesteel het

Daar is 'n massiewe amphiteater wat oor die see uitkyk en tot vandag toe nog gebruik word vir shows, 'n baie groot hippodrome, paleise (Herodus s'n het selfs 'n swembad gehad) en praetoriums, akwaduks (aqueducts), badhuise, 'n reuse hawe, teaters, groot standbeelde, restaurante, tempels, pragtige sinagoges en katedrale.

Herodus staan bekend as "the man who provoked nature", omdat hy alewig goed wou bou wat teen die stand van die natuur ingegaan het. In die geval van Caeserea wou hy 'n glorieryke hawe hê, maar Israel se kuslyn het geen noemenswaardige breuke nie, so hy het besluit om die natuur bietjie uit te help. Hy het die kuslyn uitgebrei tot diep in die see in, en die hawe wat hy daar gebou het was manjifiek. Maar wat hy nie geweet het nie was dat daar 'n natuurlike foutlyn reg onder sy hoofhawe deurgeloop het, en hoewel dit baie jare geneem het, het sy hawe uiteindelik weggesak in die see. Dié keer het die natuur gewen.

Caeserea was die grootste stad in Palistina tydens die Romeinse era, en word gereeld genoem in die boek van Handelinge, veral in verband met Paulus se sendingreise. Dis ook hier waar hy as gevangene aangehou was, en duisende Christene en Jode vir baie jare gemartel en vermoor was. Dit was die tuisdorp van Pontius Pilatus, Filippus en Cornelius, wie waarskynlik die eerste nie-Jood was wat 'n Christen geword het.

Uiteindelik het ons onsself weggeskeur van Caeserea vir aandete by die hotel. Na ete het 'n paar mense besluit dat, aangesien dit ons enigste vry aand in Jerusalem was (die res was Gala aande), wil hul dit ten volle benut en gaan inkopies doen, en teen 9 uur het die idee soos 'n veldbrand versprei.

Toe begin die sports. Om vervoer te reël vir 40+ Suid-Afrikaners wat hulself gedra soos kinders op Ou Kersaand is uiteraard een groot deurmekaarspul. Die eindbestemming was Ben Yehuda, 'n straat waar die winkels tot 11 uur oop is. Dit het die winkels nie lank gevat om op te tel wat aangaan nie, en teen die einde van die aand het verskeie winkelvensters gepryk met handgeskrewe notas wat die Suid-Afrikaners van die GIG Toer welkom heet :D .

Foto van Shani by 'n besige stalletjie in Jerusalem

Ek en Shani het so van winkel tot winkel gedryf, net om nou en dan in die strome van groepies mense opgeswiep te raak. Daar was soveel blink en interessante snuisterye, dit was moeilik om nie weg te raak in die opwinding daarvan nie! Ek het ook uiteindelik my eerste koppie koffie sedert die begin van die toer gedrink ('n volle 4 dae -- 'n nuwe rekord!!) na iemand daarop aangedring het om ons te trakteer. Dankie oom Wynand! :)

Ons was net na 11 uur terug by die hotel, waar ek tot my misnoë ontdek het dat ek nie toegang het tot die internet van my selfoon af nie. Okei, dis dalk onnodige info, maar dit wás 2 ure van my lewe (asook kosbare slaaptyd) wat gemors was as gevolg daarvan, so ek wou dit maar net noem...



‹ Dag 3                                 Dag 5

Foto Album         |         Index en Intro


OP 'N SOORTGELYKE NOOT...

Israel Toer Dagboek (3 van 7)

ISRAEL TOER // Dag 3 // 4 Oktober 2010

Plekke waar ons was:
  • Yigal Allon Sentrum (Boot museum)
  • Bootrit op die see van Galilea
  • Berg van Saligsprekinge ("Mt. of Beatitudes")
  • Tabgha se Sewe Fonteine Kerk (vermeerdering van die 5 brode & 2 vissies)
  • Mensa Christi (Tafel van Christus Kerk)/Peter's Primacy Kerk (waar Jesus aan sy dissipels verskyn en hul saam geëet het)
  • Yardenit, doopplek in Jordaan (waar Jesus gedoop is)

Foto van 'n prentjie-diagram wat Jesus se wonderwerke rondom die see van Galilea aandui

Vandag het ons rondom die see van Galilea verken, 'n area wat baie waarde het vir Christene a.g.v. Jesus se bedrywighede daar tydens Sy bedieningsjare. Die see van Galilea se regte naam is Yam Kinneret (Yam beteken meer [ie. "lake" in Engels]), maar het verskeie noemname, afhangende van waar jy is en wie daarna verwys (bv. mense van Tiberias noem dit die see van Tiberias, soos in Joh. 21). Dis nie rêrig 'n "see" nie, maar 'n massiewe varswater meer, hoewel dit nie verbasend is dat so 'n massa water in 'n droë land soos Israel see-status het nie :) . Boonop was daar jare gelede 'n invloei van sout water (2 van die 7 fonteine by Tabgha), maar dié word vandag herlei om die meer se water vars te hou.

Vandag se toer het begin tussen Tiberias en Tabgha, by die Yigal Allon Sentrum, ook bekend as die "Man in the Galilee" en "The Ancient Galilee Boat" museum. Hul grootste skat is die gepresserveerde vissersboot wat hul uit die meer gehaal het 'n paar jaar terug, wat dateer uit Jesus se tyd.

http://www.facebook.com/album.php?aid=241506&id=778908648&l=447712d4a5

Ons het vandaar op 'n boot geklim en uitgevaar op die see van Galilea. Na ons 'n ent gevaar het, is al die enjins gesny en het ons vir 5 minute in stilte gesit. Dit was een van daardie "moments" wat vir ewig by my sal bly. Die gedagte dat ons op 'n stuk water was waar Jesus self gereeld gevaar het, het die ervaring ontsettend persoonlik gemaak; dit het alles -- die wêreld wat die Evangelies vir ons skets, die realiteit van 'n dosyn vissermanne wie se lewens so dramaties verander het, selfs die alledaagsheid van Jesus se dag-na-dag bestaan -- so ontsaglik werklik laat voel.

Oppad terug na die oewer het hul vir ons luide lofliedere oor die luidsprekers gespeel. In my opinie het die dag rêrig goed begin :) Hier's 'n vinnige video daarvan:


Daarna het ons drie bekende plekke besoek waar Jesus volgens die Christen tradisie wonderwerke gedoen het:
  1. Die Berg van Saligsprekinge ("Mount of Beatitudes"): sien Matt. 5.
  2. Tabgha se Sewe Fonteine Kerk: die plek van die vermeerdering van die 5 broodjies & 2 vissies (sien Matt. 14).
  3. Mensa Christi (Tafel van Jesus Kerk)/Peter's Primacy: waar Jesus na Sy opstanding aan 7 van die dissipels verskyn het en vir hul gesê het om hul nette aan die ander kant uit te gooi. Hy't 'n vuur op die strand gemaak -- op 'n klip wat vandag die "tafel van Jesus" genoem word -- en na Hy saam met hul geëet het, het Hy drie maal vir Petrus gevra of hy Hom lief het (sien Joh. 21).
Al hierdie plekke is deur die Rooms Katolieke Kerk as heilig verklaar en dus besoek jy eintlik 'n kerkgebou en als wat daarmee gepaard gaan, insluitend nonne wat in die aangrensende kloosters woon. Daar was hordes toeriste van elke kleur en geur by elkeen van hierdie plekke, en as gevolg daarvan was die atmosfeer luidrugtig en distracting.

En tog. Ten spyte van die groen gemanikuurde grasperke en Europese blomtuine was daar tog iets van die ongenaakbaarheid van die land en gehardheid van die mense wat amper tasbaar was. Om daardie heuwels te voet in daardie smorende hitte uit te klim, of op die rotsbesaaide, skadulose walle te sit en luister na revolusionêre lering... dit het 'n blywende indruk by my gelos.

Daarna was ons na die ruïnes van Kapernaum. Dit was 'n belangrike stad in sy tyd, en dis waar Jesus gewoon het tydens Sy bedieningsjare. Groot dele van die ou stad se mure en paaie staan soos geraamtes en getuig van eras wat verby is. Die oorblyfsels van Petrus se huis is ook daar, en soos te verwagte was dit jare terug deur die Rooms Katolieke omsingel (hul het 'n kerk rondom dit gebou); vandag staan die kerk wydsbeen bo-oor die opgrawings, wat dit vir ons moontlik gemaak het om na hope stene te kyk sonder om nog 'n kerk binne te gaan. FYI, ons toergids het gesê die kerk staan bekend as die spaceship kerk :)

Middagete was by 'n visplek genaamd "Kibbutz Ein Gev" waar ons die lelikste (maar nietemin lekker) vis bedien is.

Foto van die heel vis wat ons geëet by Ein Gev

Ons laaste stop was by Yardenit, die doopplek van Johannes die Doper in die Jordaan rivier, waar Jesus gedoop is. Dit is vandag 'n baie populêre doopplek, veral vir Christen pelgrims -- daar's foto's waar honderde mense op die oewers en in die water saamdrom met hul wit jakkies aan om gedoop te word. Die plek is totaal oorgekommersialiseerd, en weereens was dit vir my onmoontlik om die Bybel se vertellings met die beton paadjies, metaaltralies en gedenkwinkels te versoen. Op 'n positiewe noot, ek kon darem 'n paar nice poskaarte daar koop.

Laatmiddag was ons uiteindelik oppad hotel toe, wat so na as moontlik aan die meer gebou is. Ek, Shani en 'n paar ander meisies het toe afgestap na die "strand" vir 'n bietjie alleen tyd.

Na aandete het ons weer 'n praise & worship sessie gehad saam met Retief Burger. Dit was baie spesiaal, en het gans te vroeg opgehou. Na die tyd het ons gekuier met een van ons maatjies. Shani was na 'n ruk bed toe, maar ons twee het tot diep in die nag nog gesels, waarna ons uiteindelik bed toe gestrompel het.



‹ Dag 2                                 Dag 4 ›

Foto Album         |         Index en Intro


OP 'N SOORTGELYKE NOOT...

Israel Toer Dagboek (2 van 7)

ISRAEL TOER // Dag 2 // 3 Oktober 2010

Plekke waar ons was:
  • Dooie See
  • Qumran (waar Dooie See boekrolle ontdek is)
  • Jerigo: Saggeus se boom, Berg van Versoeking, Elisa se fontein
  • Nasaret: Maria se huis
  • Tiberias (stad langs see van Galilea)

Shani was vanoggend al 6:15 in die Dooie See en reeds terug toe ek opgestaan het. Na ons ons tasse gepak en ontbyt geëet het, het ons net genoeg tyd gehad om 'n paar foto's van die Dooie See te neem en blitsig 'n paar inkopies by die winkelsentrum langsaan in te pas -- wat hoofsaaklik die gesogde Dooie See skoonheidsprodukte verkoop -- voor ons moes ry.

Een van die dokumente wat hul gekry het van die mense wat in Qumran gebly het.

Ons het eerste by Qumran gestop waar die Dooie See boekrolle gevind is. Die plek is in die woestyn en al wat daar is, is sand, son, warm wind en dadelbome. Vandag is dit 'n Nasionale Park en toeriste aantreklikheid, en daar's 'n indrukwekkende uitstalling oor die gemeenskappie wat daar gewoon het in afsondering en toewyding aan God soveel jare terug. Daar's ongelukkig min gesê oor die argeologiese ontdekking van die boekrolle. Ons het lank buite tussen die opgrawings spandeer -- heeltyd son, en BAIE warm!

Het daarna na Jerigo gery, wat in die Westerse Oewer (Westbank) is en dus onder Pallistynse beheer is -- die verskil was nogal opvallend. Dit het my laat dink aan Kaapstad, hoe anders die Kleurling areas lyk in vergelyking met die res.

In Jerigo het ons verby Saggeus se boom gery, en daarna met kabelkarretjies na die top van die Berg van Versoeking gegaan waar Jesus deur die duiwel versoek was. Vandag is daar geboue en verkopers van handgemaakte produkte en 'n eetplek met 'n lieflike uitsig teen die hange van die berg (waar ons middagete geëet het); die gevoel van issolasie en dorre natuur is weg (op die berg; maar die uitgestrekte landskap is nogsteeds vaal en droog). Ons het ook van die opgrawings van die ou stad vanuit die kabelkarretjie gesien, asook "Elisa se fontein", die een wat hy in 2 Kon. 2:22 gesond gemaak het deur sout in te gooi.

Foto van die uitsig vanaf die Berg van Versoeking oor Jerigo
Uitsig vanaf die Berg van Versoeking, buite Jerigo

Daarna moes ons ons haas na Nasaret om die Kerk van die Aankondiging ("Church of the Annunciation") oop te kry. Dis 'n Rooms Katolieke kerk wat gebou is rondom Maria se huis (wat 'n grot was) waar die engel aan haar die nuus van Jesus se geboorte gebring het. Die kerk is toegewy aan Maria, met asemrowende kunswerke van haar teen al die mure. En hul het wragtag dit reggekry om 'n kerk rondom 'n grot te bou. As iemand dit vir my moes sê sou ek hom nie geglo het nie. Omdat dit 'n heilige plek is, moet besoekers beskeie aangetrek wees, nl. hul skouers en kneë moet bedek wees. 'n Paar mense moes noodgedwonge buite bly omdat hul kortbroeke bo hul kneë stop of hul nie 'n lap gehad het om oor hul skouers te gooi nie.

Dit was reeds donker toe ons gery het. Ons het deur die dorp (Nasaret) gery, wat 'n gemengde Arabiese en Israeli bevolking het. Dit lei tot interessante kontraste, soos dat alle aanwysings beide Hebreeus & Arabies op het (geen Engels nie), en die clash tussen die Grieks Ortodokse en Moslem gelowe is baie opvallend.

http://www.facebook.com/album.php?aid=241506&id=778908648&l=447712d4a5

Kom uiteindelik in Tiberias aan waar ons vir twee aande in die Holiday Inn reg langs die see van Galilea bly. Na aandete het ons bymekaar gekom om te praise & worship saam met Retief, en met mekaar te deel.

Later die aand, toe ons besef ons is nog lank nie moeg nie, het ek en Shani buite op die deck gaan sit en gelees en kuier. Die aand temperatuur was heerlik; die lug was soos 'n ligte kombers op my vel. Teen middernag het ons uiteindelik besluit om te gaan slaap.
Foto van Shani wat boek lees by hotel



‹ Dag 1                                 Dag 3 ›

Foto Album         |         Index en Intro


OP 'N SOORTGELYKE NOOT...

Israel Toer Dagboek (1 van 7)

ISRAEL TOER // Dag 1 // 2 Oktober 2010

Foto van LCD skermpie in vliegtuig wat vlugpad aandui


Plekke waar ons was:
  • Tel Aviv (lughawe)
  • Dooie See
http://www.facebook.com/album.php?aid=241506&id=778908648&l=447712d4a5

Ek en Shani het vandag Israel toe gevlieg saam met die Gospel Israel Gala (i.e. GIG) 2010 toergroep. Surreal, reg? Ons moes al 2:00 (ja, die oggend) op O.R. Tambo wees om 6:00 te vlieg. Na die indiepte ondervraging en effense vertraging a.g.v. bagasie probleme, het die 8 ure vlug na Israel uiteindelik aangebreek.

Ons het so 15:30 in Tel Aviv-Yafo geland na 'n ongemaklike vlug (maar met heerlike kos). Ons (i.e. Shani) het ook intussen maatjies gemaak met 'n paar mense. Toe ons buite kom, het die warm, dik lug my getref soos 'n muur -- dit het so bietjie herinner aan Durban: bedompig, warm, en ruik soos vis (wat meestal dood is).

Die omvang van die toer het vir die eerste keer ingesink toe ek die spul busse sien wat op ons wag. Die totale toer bestaan uit 1 200 mense, wat 37 busse volmaak! Dit is sowaar indrukwekkend!

Ons Israeli toergids, Yuval, was 'n baie gawe en bekwame ou, en tussen hom en Retief Burger (ons groepleier) was ons vinnig ingesettle en oppad na die Dooie See waar ons by die Royal Hotel gaan slaap.

'n 2,5 uur lange busrit later het ons daar aangekom en direk in aandete ingestap, waarna ons rustig onsself kon besig hou. Daardie rus was van korte duur toe Shani my opkommandeer om saam met haar en 'n paar ander in die Dooie See te gaan swem. Die opsies was óf dan óf die volgende oggend BAIE vroeg, en omdat ek my limiete ken as dit kom by oggende, stem ek toe dadelik in.

Die see is letterlik oorkant die straat van die hotel, so ons het sommer afgestap "strand" toe. Ek sit strand in aanhalings, want hoewel die grond langs die see funksioneer as 'n strand area, is dit grof en klipperig en nie 'n plek waar jy jou handdoek wil uitgooi of kaalvoet wil loop nie. En die water stink asof dit gans te lank al staan, iets wat geen see wat sy sout werd is behoort te doen nie (dink ek). Ons is ook goed gewaarsku dat sekere goed nie met die water in kontak moet kom nie, soos jou gesig, asook juwele (als behalwe suiwer goud) en plastiek wat sal erodeer.

Maar ten spyte van die donker en die scary water en die stank, was dit 'n baie nice ervaring. Dis nogal 'n belewenis om soos 'n kurk in die water te dobber :)

Die enigste ding waaroor ek spyt is, is dat ek geen foto's geneem het van ons see-drywery nie. Ag wel...

Ons middernagtelike manewales het ons uiteindelik eers teen omtrent 2:00 in die bed laat kom.




Foto Album         |         Index en Intro


OP 'N SOORTGELYKE NOOT...

Cute kat


Chino + kraan = Kodak moment
Geneem met my nuwe HTC Desire en 'n 'special effects' kamera pakket. Ek speel heerlik :D

OP 'N SOORTGELYKE NOOT...

Ag Mei, kyk hoe vlieg die tyd!!


Ek sien ek het hierdie blog sorgvuldig geïgnoreer. Niks persoonlik nie ek belowe, dis net dat ek lanklaas gemotiveerd genoeg was om my lewe met enigiemand te wil deel. Ja, ja, ek weet dis eintlik belangrik, en ek weet ek gaan spyt wees as ek dit nie doen nie. Sien, ek wéét al hierdie goed. Nie dat ek intussen motivering ontdek het nie, maar ek het wel besef dis al Mei, die jaar is al halfpad (!) en daar het 'n magdom Baie Belangrike Goed gebeur -- as ek nie vinnig opvang nie gaan dit verewig vergete raak en... slegte goed mag dalk gebeur. Of so iets.

Dus, hierdie is 'n vinnige opsomming van al die aardskuiwende dinge wat ek so sorgeloos nagelaat het om vir jul te vertel. Ek mag dalk selfs oulike, fotoryke inskrywings maak oor sommige van hulle (en hul dan verwyder van hierdie een) in die volgende paar dae/weke/maande. Of nie. Ek het geleer om geen beloftes te maak nie.

Februarie

Ek en Johan het Valentynsdag gaan vier by 'n lieflike restaurantjie om die draai van ons, Full Cream Café. Ek is wel oortuig dat Johan se besluit om my te treat nie veel met die vakansiedag te doen gehad het nie maar eerder gebasseer was op die menu wat hulle na sy foon toe gesms het. Tipies.

Maart

Op die 5e het ek, Johan & Shani 'n vertoning by die Barnyard Theatre in Menlyn gaan kyk genaamd "Rock Circus". Dit was 'n kombinasie van sang en akrobatiese toertjies, en was absoluut uitstekend gewees!

Ek het ook die ATKV se Skryfskool in Potch bygewoon saam met Lily (8-12 Maart). Dis 'n 5-dag kursus waar ons werkswinkels en groepsessies gehad het saam met van Suid-Afrika se bestes. Dit was baie insiggewend, én ek het 'n paar maatjies gemaak in die proses (Hallo Danja!). Dit het my wel oortuig dat ek dalk meer baat sou vind by 'n ander kursus, waarvoor ek toe uiteindelik ingeskryf het, maar later meer hieroor.

Maart/April

Wouter het kom kuier! Dit was so vinnige kuiertjie saam met 'n Franse vriend van hom van die orkes, en op kort kennisgewing bevind ons toe onsself in Pilansberg. Die idee was om vir Bastian bekend te stel aan Afrika, maar toe reën dit so erg (jip, presies wat ek ook gesê het) dat ons 'n baie "anderse" tyd gehad het (ek het met opset nie gesê "interessant" nie; dit was veel erger.) Ek sal probeer om foto's te post, dit was nogal 'n avontuur :) Net voor sy besoek het Ma Elna haarself beseer. Hoewel sy skaars kon loop was sy saam maar sy kon niks saam met ons doen nie. Toe ons teruggekom het, het die dokter 'n rugoperasie geskeduleer vir middel April.

April

Intussen besluit Johan (nie dat hierdie besluit nou eers geneem is nie, dit het net so lank geneem om te materialiseer) dat ons 'n wynkamer moet kry want ons huidige Winoteek spasie is nie meer beskikbaar nie. Pa Johan het vir ons die oop stoorkamertjie gegee agter hul garage en toe begin die pret. Hulle* het gewoel en werskaf, die plek met polystyrene uitgevoer, krag aangelê, 'n aircon ingesit, als geverf, die een deur toegebou, die ander deur 'n dubbeldeur gemaak, rakke ingesit, kort-kort temperatuur metings gedoen, en toe -- uiteindelik -- was daar 'n baie suksesvolle wynkelder wat 'n konstante, ideale temperatuur handaaf en groot genoeg is om 'n gedeelte te kan uithuur aan ons goeie vriend John. Nou staan ons bokse wyn daar binne en wag met rykhalsende verlange vir die dag wat Johan sy mind gaan opmaak oor hoe hy ons wyn wil sorteer. Ek skat dit sal ten minste nog 5 maande wees voor als uitgepak is.
* Hulle = Pa Johan en Lasarus het al die voorbereiding en meeste fisiese arbeid gedoen. Die wynrakke is opgesit deur Pa Johan en Johan, met 'n bietjie hulp van John af. Ek het die verf gekies en verversings aangedra.

Terug by Ma Elna -- sy is toe geopereer op Dinsdag, 20 April. Dit moes 'n vinnige ding gewees het volgens die dokter ("paar dae tops"), maar uiteindelik was sy in die hospitaal vir 2 weke. Sy was baie deurmekaar aan die begin, sy't gehallusineer en was soms moeilik om te hanteer (ek kan my amper nie indink dat my liefdevolle, vredeliewende skoonma 'n suster met haar waterbottel gegooi het nie...) As 'n side note, Pa Johan het darem leer kosmaak :-). Die operasie was 'n groot sukses, en huidiglik is sy bedlêend (by die huis) terwyl sy in 'n konstante proses van rehabilitasie is. Sy kan al vir kort rukkies staan en sit, en loop al met hulp, maar dis nog moeilik vir haar. En vir Pa -- hy moet nogsteeds kosmaak.

My huidige projek

Nog voor ek na die Skryfskool toe was, het ek kennis gemaak met 'n skryfster op die internet wat baie hulpbronne gratis beskikbaar stel vir aspirant skrywers, en ek het alles verslint. Dit is die beste materiaal wat in my opinie beskikbaar is (gratis), en ek het baie daarvan toegepas nog voor die Skryfskool. Maar by die Skryfskool was ek baie teleurgesteld toe hulle my niks kon leer wat Holly my nie alreeds geleer het nie. Net daar en dan het ek besluit ek gaan inskryf vir haar volledige skryfkursus (wat terloops goedkoper was as die Skryfskool).

Dit is besig om my lewe te verander. Dis 'n 6-maande, online skryfkursus, "How to Think Sideways (HtTS)" deur Holly Lisle, en hierdie vrou kry dit reg om die onverstaanbare, frustrerende proses van skryf heeltemal te demystify. Wat hierdie kursus vir my so groot sukses maak, is dat sy nie probeer om jou te leer skryf nie (dis i.e.g. iets wat jy op skool moes leer), sy is eerder besig om 'n skrywer te leer hoe om te floreer in sy milleue, en met skrywer bedoel ek enigiemand wat 'n hartsbegeerte het om te skryf. Sy het my oortuig dat enigiemand wat wíl skryf, kán skryf -- dat ék kan skryf.

Dit het my die guts gegee om 'n rêgte-egte boek te begin skryf. Ek moes oorspronklik 'n kortverhaal van 10 bladsye geskryf het as toelating tot die ATKV Skryfskool. Ek het begin skryf, maar my storie was baie groter as die 10 bladsye limiet. Ek het bloot daar opgehou, want dit was al wat ek nodig gehad het. Maar 'n onklaar storie is ook net dit, onklaar. Toe ek 'n 'projek' moes begin as deel van HtTS, toe besluit ek om aan te gaan met my storie, want ek is passievol daaroor (en Holly sê dis wat 'n goeie idee 'n briljante idee maak. Ek glo haar).

Én ek het 'n mikpunt: Lapa Uitgewers het 'n Afrikaanse Jeugroman kompetisie geloots wat 30 September sluit, en ek gaan my boek daarvoor inskryf. Ek is baie opgewonde, en huidiglik ondersteun Johan my baie mooi. Ek hoop net hy kan dit volhou -- dit vat baie, baie tyd, en dis moeilik vir hom omdat hy nie resultate sien nie: ek mag nie die storie vir hom vertel voor dit nie klaar is nie, en 'klaar' gaan eers oor 'n maand of twee gebeur -- dis 100% sy eie besluit -- so hy sien maar net hoe opgewonde ek raak oor van die scenes, en hy hou maar homself besig as ek in die aande sit en skryf.

Fluit-fluit, my storie is uit.

(PS: Het julle gesien hoe mooi Afrikaans ek gebruik het? Dis 'n newe(posi?)-effek van om 'n Afrikaanse boek te skryf :-p EN dit was sonder die hulp van 'n woordeboek (of 'n spelchecker)!! Indrukwekkend.)

OP 'N SOORTGELYKE NOOT...

VVV = vriende + vis + vet pret!

Ek wou net 'n paar foto's deel van ons onlangse kuier met 2 baie spesiale mense, Franszo & sy vrou Welmien. Franszo het vis saamgebring wat hy spesiaal vir ons in Namibie gaan vang het (!!), en Johan het die taak van Meester Vis-Braaier baie BAIE ernstig opgeneem :-)


Behalwe vir die ongelooflike kos en baie lekker kuier, het ons na die tyd ook 'n bietjie (OK, baie) GuitarHero3* gespeel - en die manne het nie te sleg gedoen nie... behalwe dat ek en Welmien hul alies geskop het!!! Girls Rock!!!

* Ek wil net amptelik sê dat ek RockBand2 veel eerder verkies as GuitarHero - die songs (i.t.v. lirieke) en grafiese elemente is baie meer aanvaarbaar... en die vroue karakters het bietjie meer klere aan :-P

OP 'N SOORTGELYKE NOOT...