Goed wat ons doen,

Israel Toer Dagboek (1 van 7)

00:02 CornflowerBlues 0 Kommentaar

ISRAEL TOER // Dag 1 // 2 Oktober 2010

Foto van LCD skermpie in vliegtuig wat vlugpad aandui


Plekke waar ons was:
  • Tel Aviv (lughawe)
  • Dooie See
http://www.facebook.com/album.php?aid=241506&id=778908648&l=447712d4a5

Ek en Shani het vandag Israel toe gevlieg saam met die Gospel Israel Gala (i.e. GIG) 2010 toergroep. Surreal, reg? Ons moes al 2:00 (ja, die oggend) op O.R. Tambo wees om 6:00 te vlieg. Na die indiepte ondervraging en effense vertraging a.g.v. bagasie probleme, het die 8 ure vlug na Israel uiteindelik aangebreek.

Ons het so 15:30 in Tel Aviv-Yafo geland na 'n ongemaklike vlug (maar met heerlike kos). Ons (i.e. Shani) het ook intussen maatjies gemaak met 'n paar mense. Toe ons buite kom, het die warm, dik lug my getref soos 'n muur -- dit het so bietjie herinner aan Durban: bedompig, warm, en ruik soos vis (wat meestal dood is).

Die omvang van die toer het vir die eerste keer ingesink toe ek die spul busse sien wat op ons wag. Die totale toer bestaan uit 1 200 mense, wat 37 busse volmaak! Dit is sowaar indrukwekkend!

Ons Israeli toergids, Yuval, was 'n baie gawe en bekwame ou, en tussen hom en Retief Burger (ons groepleier) was ons vinnig ingesettle en oppad na die Dooie See waar ons by die Royal Hotel gaan slaap.

'n 2,5 uur lange busrit later het ons daar aangekom en direk in aandete ingestap, waarna ons rustig onsself kon besig hou. Daardie rus was van korte duur toe Shani my opkommandeer om saam met haar en 'n paar ander in die Dooie See te gaan swem. Die opsies was óf dan óf die volgende oggend BAIE vroeg, en omdat ek my limiete ken as dit kom by oggende, stem ek toe dadelik in.

Die see is letterlik oorkant die straat van die hotel, so ons het sommer afgestap "strand" toe. Ek sit strand in aanhalings, want hoewel die grond langs die see funksioneer as 'n strand area, is dit grof en klipperig en nie 'n plek waar jy jou handdoek wil uitgooi of kaalvoet wil loop nie. En die water stink asof dit gans te lank al staan, iets wat geen see wat sy sout werd is behoort te doen nie (dink ek). Ons is ook goed gewaarsku dat sekere goed nie met die water in kontak moet kom nie, soos jou gesig, asook juwele (als behalwe suiwer goud) en plastiek wat sal erodeer.

Maar ten spyte van die donker en die scary water en die stank, was dit 'n baie nice ervaring. Dis nogal 'n belewenis om soos 'n kurk in die water te dobber :)

Die enigste ding waaroor ek spyt is, is dat ek geen foto's geneem het van ons see-drywery nie. Ag wel...

Ons middernagtelike manewales het ons uiteindelik eers teen omtrent 2:00 in die bed laat kom.




Foto Album         |         Index en Intro


Verdere Leesstof:

0 mense het al kommentaar gelewer: