Goed wat ons doen,

Israel Toer Dagboek (2 van 7)

16:46 CornflowerBlues 0 Kommentaar

ISRAEL TOER // Dag 2 // 3 Oktober 2010

Plekke waar ons was:
  • Dooie See
  • Qumran (waar Dooie See boekrolle ontdek is)
  • Jerigo: Saggeus se boom, Berg van Versoeking, Elisa se fontein
  • Nasaret: Maria se huis
  • Tiberias (stad langs see van Galilea)

Shani was vanoggend al 6:15 in die Dooie See en reeds terug toe ek opgestaan het. Na ons ons tasse gepak en ontbyt geëet het, het ons net genoeg tyd gehad om 'n paar foto's van die Dooie See te neem en blitsig 'n paar inkopies by die winkelsentrum langsaan in te pas -- wat hoofsaaklik die gesogde Dooie See skoonheidsprodukte verkoop -- voor ons moes ry.

Een van die dokumente wat hul gekry het van die mense wat in Qumran gebly het.

Ons het eerste by Qumran gestop waar die Dooie See boekrolle gevind is. Die plek is in die woestyn en al wat daar is, is sand, son, warm wind en dadelbome. Vandag is dit 'n Nasionale Park en toeriste aantreklikheid, en daar's 'n indrukwekkende uitstalling oor die gemeenskappie wat daar gewoon het in afsondering en toewyding aan God soveel jare terug. Daar's ongelukkig min gesê oor die argeologiese ontdekking van die boekrolle. Ons het lank buite tussen die opgrawings spandeer -- heeltyd son, en BAIE warm!

Het daarna na Jerigo gery, wat in die Westerse Oewer (Westbank) is en dus onder Pallistynse beheer is -- die verskil was nogal opvallend. Dit het my laat dink aan Kaapstad, hoe anders die Kleurling areas lyk in vergelyking met die res.

In Jerigo het ons verby Saggeus se boom gery, en daarna met kabelkarretjies na die top van die Berg van Versoeking gegaan waar Jesus deur die duiwel versoek was. Vandag is daar geboue en verkopers van handgemaakte produkte en 'n eetplek met 'n lieflike uitsig teen die hange van die berg (waar ons middagete geëet het); die gevoel van issolasie en dorre natuur is weg (op die berg; maar die uitgestrekte landskap is nogsteeds vaal en droog). Ons het ook van die opgrawings van die ou stad vanuit die kabelkarretjie gesien, asook "Elisa se fontein", die een wat hy in 2 Kon. 2:22 gesond gemaak het deur sout in te gooi.

Foto van die uitsig vanaf die Berg van Versoeking oor Jerigo
Uitsig vanaf die Berg van Versoeking, buite Jerigo

Daarna moes ons ons haas na Nasaret om die Kerk van die Aankondiging ("Church of the Annunciation") oop te kry. Dis 'n Rooms Katolieke kerk wat gebou is rondom Maria se huis (wat 'n grot was) waar die engel aan haar die nuus van Jesus se geboorte gebring het. Die kerk is toegewy aan Maria, met asemrowende kunswerke van haar teen al die mure. En hul het wragtag dit reggekry om 'n kerk rondom 'n grot te bou. As iemand dit vir my moes sê sou ek hom nie geglo het nie. Omdat dit 'n heilige plek is, moet besoekers beskeie aangetrek wees, nl. hul skouers en kneë moet bedek wees. 'n Paar mense moes noodgedwonge buite bly omdat hul kortbroeke bo hul kneë stop of hul nie 'n lap gehad het om oor hul skouers te gooi nie.

Dit was reeds donker toe ons gery het. Ons het deur die dorp (Nasaret) gery, wat 'n gemengde Arabiese en Israeli bevolking het. Dit lei tot interessante kontraste, soos dat alle aanwysings beide Hebreeus & Arabies op het (geen Engels nie), en die clash tussen die Grieks Ortodokse en Moslem gelowe is baie opvallend.

http://www.facebook.com/album.php?aid=241506&id=778908648&l=447712d4a5

Kom uiteindelik in Tiberias aan waar ons vir twee aande in die Holiday Inn reg langs die see van Galilea bly. Na aandete het ons bymekaar gekom om te praise & worship saam met Retief, en met mekaar te deel.

Later die aand, toe ons besef ons is nog lank nie moeg nie, het ek en Shani buite op die deck gaan sit en gelees en kuier. Die aand temperatuur was heerlik; die lug was soos 'n ligte kombers op my vel. Teen middernag het ons uiteindelik besluit om te gaan slaap.
Foto van Shani wat boek lees by hotel



‹ Dag 1                                 Dag 3 ›

Foto Album         |         Index en Intro


Verdere Leesstof:

0 mense het al kommentaar gelewer: