Goed wat ons doen,

Israel Toer Dagboek (5 van 7)

21:05 CornflowerBlues 0 Kommentaar

ISRAEL TOER // Dag 5 // 6 Oktober 2010

Plekke waar ons was:
  • Jerusalem
  • Olyfberg: Tuin van Getsemáne, Basilika van Angs
  • Betlehem: Herdersvelde, Kerk van die Engele, Kerk van die Geboorte
  • "God is Groot" Gospel Gala (eerste aand) - al die kunstenaars wat saam was het opgetree; spreker was Angus Bachan

Die eerste ding wat ons vandag gedoen het was om die manjifieke gesig van Jerusalem in te neem. Daar is 'n spesiale area waar jy vanaf die Olyfberg bo-oor die Kidron Vallei kyk na die oostelike muur, met die Dome of the Rock se goue koepel wat oor die rant loer.

Foto van Jerusalem se oostelike muur

Verder op met die pad is die Tuin van Getsemáne, waar ons letterlik verdring was deur toeriste. Getsemáne beteken "oliepers", iets waarvan daar baie was op die Olyfberg in Jesus se tyd, so dit was nie die naam van 'n spesifieke plek gewees nie; daarom is die tuin waar Jesus gebid het gebasseer op Christen tradisie (en 'n tikkie raaiwerk). In die Tuin is daar 'n afgekampde olyfboord met bome wat baie eeue oud is, en pragtige reliefwerke wat die sandsteenmure versier oppad na die Basilika van Angs (Basilica of the Anguish). Die binnekant van die Basilika is in skemer gehul (want Jesus was daar in die nag), met 'n hoë dak wat die naghemel uitbeeld in donkerblou en goud, en slegs drie groot mosaïeke voor in die kerk (wat min is in vergelyking met ander kerke) wat die storie van die gebeure in Getsemáne vertel.

Israel Toer Album op Facebook

Maar wat hierdie kerk vir my besonders gemaak het was die atmosfeer wat die ligspeling geskep het. Meeste van die kerke probeer 'n stelling maak oor God met 'n ydelle, bombastiese vertoon van goud, en na 'n paar sulke kerke voel dit of hul op jou skree. Maar hiérdie kerk bly stil en kies om jou te laat ervaar. By die ingang is 'n metaalskerm voor die deur se opening in die vorm van 'n baie ou olyfboom. Die lig wat deur die gedraaide, krom takke na binne gesyfer het, het 'n prentjie geskep wat meer vir my siel gedoen het as 'n duisend goue mosaïeke in 'n honderd kerke.

Daarna was ons Betlehem toe. Vandag is daardie area onder Palistynse beheer, en moes ons dus ons geliefde toergids, Yuval, agterlaat en 'n plaaslike gids gebruik. Ons het begin by die herdersvelde, waar ons eerstens in die toegeboude grot 'n "diens" gehou het en almal 'n kans gehad het om te getuig, en toe na die Kerk van die Engele geloop het wat 'n entjie bokant die grot gebou is. Dis 'n eenvoudige kerkie met die mooiste skilderye wat reg rondom die muur die storie van die herders en die engele koor vertel. Daar het ons 'n paar liedjies gesing -- die plek is gemaak daarvoor! Dit was... wow!

Ons volgende stop was die Kerk van die Geboorte (Church of the Nativity), maar teen dié tyd was ons so moeg vir die bling en fakeness wat mens rondom die "heilige plekke" aantref dat meeste mense eerder iets anders wou doen -- énigiets anders. Ons arme gids het amper paniekbevange geraak. Sy hartsbegeerte was om ons gelukkig te hou en ons gedrag het hom totaal oorbluf gelaat, want watter Christen wil nou nié die geboorteplek van Jesus sien nie?

Gelukkig was daar darem 10 siele wat wou (insluitend ek en Shani), en toe kon hy darem als in sy vermoë doen om ons ervaring so genotvol moontlik te maak -- hy het tot gereël dat ons voor in die tou kan indruk om die geboorteplek te sien, anders sou ons meer as 'n uur moes staan en wag! Dit het hom natuurlik baie punte verdien in my boekie :) Vir die wat wonder waarvoor mens 'n uur in die tou moet staan: die geboorteplek van Jesus is 'n klein kamertjie (slegs 2 mense op 'n slag word toegelaat) met 'n houtkrip wat vanselfsprekend nie die oorspronklike is nie, en 'n ster wat op die vloer geverf is. Mense gaan in om na die krip te kyk, en dan aan die ster te vat en dit te soen (soos wat die gebruik is met heilige voorwerpe as jy Katolieke is). Dit is al.

Daarna het ons gids ons na 'n aandenkingswinkel van sy keuse gevat. Die winkel was ongelukkig een groot bling-fest (ons was duidelik nie die beoogde mark nie), en dit het hom 'n hele paar van daai swaarverdiende punte gekos. Ai, ons het vir Yuval begin waardeer.

Na 'n vroeë aandete was dit tyd vir die hoofrede hoekom hierdie hele toer gereël was in die eerste plek: die "God Is Great" (GIG) Gospel Gala!!

Hier is 'n opsomming in die vorm van 'n kort videoclip:


Ons het almal in die Ou Stad bymekaar gekom, waar Dr. Isak Burger die aand geopen het en ons deur die verpligte bedankings gesit het (o.a. van die Israeli amptenare wat die Gala moontlik gemaak het). Daarna het verskeie kunstenaars elk 'n song gedoen: Julius Magan, Danie Botha, Jan de Wet, Manuel Escorcio, Trevor Sampson, Staz (van Onbeskaamd), Bobby van Jaarsveld, Wian Vos, en John Niemand. Jan de Wet het sy bekende "Kyk na die Lam" gesing (wat Jesus se tog op die Lydensweg en Sy kruisiging vertel uit die oë van Simon van Sirene) en ek dink nie daar was 'n droë oog oor na die tyd nie.

Angus Bachan was natuurlik die spreker vir die aand, en soos gewoonlik het hy reguit en onbeskaamd gepraat. Hy het so 'n duidelike liefde vir die Jode -- een van daai Oom Angus sê-goed wat my laat lag het, was toe hy vir die Joodse amptenare gesê het, "I love the Jews. My best friend is a Jew - Jesus!"

Na oom Angus het Retief Burger en sy band 'n paar aanbiddingsongs gedoen en toe is die aand op 'n hoogtepunt afgesluit toe al die kunstenaars "Jerusalem" gesing het.




‹ Dag 4                                 Dag 6 ›

Foto Album         |         Index en Intro


Verdere Leesstof:

0 mense het al kommentaar gelewer: