Showing posts with label Raubenheimer familie. Show all posts

Ag Mei, kyk hoe vlieg die tyd!!


Ek sien ek het hierdie blog sorgvuldig geïgnoreer. Niks persoonlik nie ek belowe, dis net dat ek lanklaas gemotiveerd genoeg was om my lewe met enigiemand te wil deel. Ja, ja, ek weet dis eintlik belangrik, en ek weet ek gaan spyt wees as ek dit nie doen nie. Sien, ek wéét al hierdie goed. Nie dat ek intussen motivering ontdek het nie, maar ek het wel besef dis al Mei, die jaar is al halfpad (!) en daar het 'n magdom Baie Belangrike Goed gebeur -- as ek nie vinnig opvang nie gaan dit verewig vergete raak en... slegte goed mag dalk gebeur. Of so iets.

Dus, hierdie is 'n vinnige opsomming van al die aardskuiwende dinge wat ek so sorgeloos nagelaat het om vir jul te vertel. Ek mag dalk selfs oulike, fotoryke inskrywings maak oor sommige van hulle (en hul dan verwyder van hierdie een) in die volgende paar dae/weke/maande. Of nie. Ek het geleer om geen beloftes te maak nie.

Februarie

Ek en Johan het Valentynsdag gaan vier by 'n lieflike restaurantjie om die draai van ons, Full Cream Café. Ek is wel oortuig dat Johan se besluit om my te treat nie veel met die vakansiedag te doen gehad het nie maar eerder gebasseer was op die menu wat hulle na sy foon toe gesms het. Tipies.

Maart

Op die 5e het ek, Johan & Shani 'n vertoning by die Barnyard Theatre in Menlyn gaan kyk genaamd "Rock Circus". Dit was 'n kombinasie van sang en akrobatiese toertjies, en was absoluut uitstekend gewees!

Ek het ook die ATKV se Skryfskool in Potch bygewoon saam met Lily (8-12 Maart). Dis 'n 5-dag kursus waar ons werkswinkels en groepsessies gehad het saam met van Suid-Afrika se bestes. Dit was baie insiggewend, én ek het 'n paar maatjies gemaak in die proses (Hallo Danja!). Dit het my wel oortuig dat ek dalk meer baat sou vind by 'n ander kursus, waarvoor ek toe uiteindelik ingeskryf het, maar later meer hieroor.

Maart/April

Wouter het kom kuier! Dit was so vinnige kuiertjie saam met 'n Franse vriend van hom van die orkes, en op kort kennisgewing bevind ons toe onsself in Pilansberg. Die idee was om vir Bastian bekend te stel aan Afrika, maar toe reën dit so erg (jip, presies wat ek ook gesê het) dat ons 'n baie "anderse" tyd gehad het (ek het met opset nie gesê "interessant" nie; dit was veel erger.) Ek sal probeer om foto's te post, dit was nogal 'n avontuur :) Net voor sy besoek het Ma Elna haarself beseer. Hoewel sy skaars kon loop was sy saam maar sy kon niks saam met ons doen nie. Toe ons teruggekom het, het die dokter 'n rugoperasie geskeduleer vir middel April.

April

Intussen besluit Johan (nie dat hierdie besluit nou eers geneem is nie, dit het net so lank geneem om te materialiseer) dat ons 'n wynkamer moet kry want ons huidige Winoteek spasie is nie meer beskikbaar nie. Pa Johan het vir ons die oop stoorkamertjie gegee agter hul garage en toe begin die pret. Hulle* het gewoel en werskaf, die plek met polystyrene uitgevoer, krag aangelê, 'n aircon ingesit, als geverf, die een deur toegebou, die ander deur 'n dubbeldeur gemaak, rakke ingesit, kort-kort temperatuur metings gedoen, en toe -- uiteindelik -- was daar 'n baie suksesvolle wynkelder wat 'n konstante, ideale temperatuur handaaf en groot genoeg is om 'n gedeelte te kan uithuur aan ons goeie vriend John. Nou staan ons bokse wyn daar binne en wag met rykhalsende verlange vir die dag wat Johan sy mind gaan opmaak oor hoe hy ons wyn wil sorteer. Ek skat dit sal ten minste nog 5 maande wees voor als uitgepak is.
* Hulle = Pa Johan en Lasarus het al die voorbereiding en meeste fisiese arbeid gedoen. Die wynrakke is opgesit deur Pa Johan en Johan, met 'n bietjie hulp van John af. Ek het die verf gekies en verversings aangedra.

Terug by Ma Elna -- sy is toe geopereer op Dinsdag, 20 April. Dit moes 'n vinnige ding gewees het volgens die dokter ("paar dae tops"), maar uiteindelik was sy in die hospitaal vir 2 weke. Sy was baie deurmekaar aan die begin, sy't gehallusineer en was soms moeilik om te hanteer (ek kan my amper nie indink dat my liefdevolle, vredeliewende skoonma 'n suster met haar waterbottel gegooi het nie...) As 'n side note, Pa Johan het darem leer kosmaak :-). Die operasie was 'n groot sukses, en huidiglik is sy bedlêend (by die huis) terwyl sy in 'n konstante proses van rehabilitasie is. Sy kan al vir kort rukkies staan en sit, en loop al met hulp, maar dis nog moeilik vir haar. En vir Pa -- hy moet nogsteeds kosmaak.

My huidige projek

Nog voor ek na die Skryfskool toe was, het ek kennis gemaak met 'n skryfster op die internet wat baie hulpbronne gratis beskikbaar stel vir aspirant skrywers, en ek het alles verslint. Dit is die beste materiaal wat in my opinie beskikbaar is (gratis), en ek het baie daarvan toegepas nog voor die Skryfskool. Maar by die Skryfskool was ek baie teleurgesteld toe hulle my niks kon leer wat Holly my nie alreeds geleer het nie. Net daar en dan het ek besluit ek gaan inskryf vir haar volledige skryfkursus (wat terloops goedkoper was as die Skryfskool).

Dit is besig om my lewe te verander. Dis 'n 6-maande, online skryfkursus, "How to Think Sideways (HtTS)" deur Holly Lisle, en hierdie vrou kry dit reg om die onverstaanbare, frustrerende proses van skryf heeltemal te demystify. Wat hierdie kursus vir my so groot sukses maak, is dat sy nie probeer om jou te leer skryf nie (dis i.e.g. iets wat jy op skool moes leer), sy is eerder besig om 'n skrywer te leer hoe om te floreer in sy milleue, en met skrywer bedoel ek enigiemand wat 'n hartsbegeerte het om te skryf. Sy het my oortuig dat enigiemand wat wíl skryf, kán skryf -- dat ék kan skryf.

Dit het my die guts gegee om 'n rêgte-egte boek te begin skryf. Ek moes oorspronklik 'n kortverhaal van 10 bladsye geskryf het as toelating tot die ATKV Skryfskool. Ek het begin skryf, maar my storie was baie groter as die 10 bladsye limiet. Ek het bloot daar opgehou, want dit was al wat ek nodig gehad het. Maar 'n onklaar storie is ook net dit, onklaar. Toe ek 'n 'projek' moes begin as deel van HtTS, toe besluit ek om aan te gaan met my storie, want ek is passievol daaroor (en Holly sê dis wat 'n goeie idee 'n briljante idee maak. Ek glo haar).

Én ek het 'n mikpunt: Lapa Uitgewers het 'n Afrikaanse Jeugroman kompetisie geloots wat 30 September sluit, en ek gaan my boek daarvoor inskryf. Ek is baie opgewonde, en huidiglik ondersteun Johan my baie mooi. Ek hoop net hy kan dit volhou -- dit vat baie, baie tyd, en dis moeilik vir hom omdat hy nie resultate sien nie: ek mag nie die storie vir hom vertel voor dit nie klaar is nie, en 'klaar' gaan eers oor 'n maand of twee gebeur -- dis 100% sy eie besluit -- so hy sien maar net hoe opgewonde ek raak oor van die scenes, en hy hou maar homself besig as ek in die aande sit en skryf.

Fluit-fluit, my storie is uit.

(PS: Het julle gesien hoe mooi Afrikaans ek gebruik het? Dis 'n newe(posi?)-effek van om 'n Afrikaanse boek te skryf :-p EN dit was sonder die hulp van 'n woordeboek (of 'n spelchecker)!! Indrukwekkend.)

OP 'N SOORTGELYKE NOOT...

Raubenheimer-ouers kuier in Noorweë

Pa Johan en Ma Elna het gisteraand laat Noorweë toe gevlieg. Dit is nou somer daar en hulle gaan vir 'n hele maand daar by Wouter & Maya kuier. Ek kan nie wag tot ons ook bietjie soontoe kan gaan nie!

OP 'N SOORTGELYKE NOOT...

Kom kyk dit op die GROOT skerm!

Kyk net wat het Johan vir ons gekoop: 'n groot (46") LCD HDTV! Dit beteken dat ons nou High Definition TV en DVDs (soos Blueray) kan kyk, en die games wat ons speel lyk amazing -- kyk net die foto's! (dit wys 'n resies speletjie.)

Maar dit beteken ook dat al ons standaard DVDs, en veral ons compressed movie files se kwaliteit nogal... "afgeneem" het. Die DVDs is nog OK, die TV se upscaling is goed genoeg. Maar compressed files... mens moenie dit full screen kyk nie, dit lyk soos 'n gefaalde Pointilism oefening.

Hier is die eerste gebruikers van ons TV... dis ook hul eerste keer agter 'n resies stuurwiel :-) (Ma Elna het dit verbasend gou bemeester!)


OP 'N SOORTGELYKE NOOT...

Ouma Lulu is vandag oorlede

Ouma Lulu is vanoggend net voor 7 oorlede. Pa Johan het my en Johan wakker gebel en gesê ons moet kom, Ouma is besig om te groet. Sy het weerloos in haar bed gelê en hyg na asem, te swak om enigiets te doen. Sy was duidelik benoud, en daar het 'n paar keer trane uit haar oë gerol. Maar ek dink ons teenwoordigheid het haar kalmeer, en sy het stiller en stiller geword tot sy ophou asem haal het. Die oorgang tussen lewe en dood was... onwerklik. Haar lyfie, wat nog die een oomblik in pyn was, was sonder enige waarskuwing die volgende oomblik slegs 'n leë dop.

Dit was die eerste keer dat ek iemand sien sterf het. Dit was nie lekker nie, maar dit was goed dat ons daar was. Ouma wag al amper twee jaar vir hierdie dag -- twee jaar is 'n lang tyd.

Baie dinge gaan nou verander.

OP 'N SOORTGELYKE NOOT...

'n Trapreling in wording


Pa Johan is druk besig om ons buitetrap se reling te maak, en dit lyk al baie goed.

Intussen beplan ons baie hard aan ons 'nuwe' kombuis! Johan het reeds 'n 3D model geteken, nou moet ons net die fynere detail uitpluis (en ons kom al hoe meer agter dat die spasie nog steeds baie min is...)


Opdatering: Foto van die trapreling op 1 Oktober (6 dae later):



OP 'N SOORTGELYKE NOOT...

Ma Elna verjaar en Johan gaan Duitsland toe

Hier's 'n vinnige pos voor ons lughawe toe ry:
Gister was Ma Elna se verjaarsdag (16 Aug) - ons het lekker ge'party'! Ons het 'n kaaskoek saamgevat, en ek het 'n baie nice kaartjie vir haar gemaak (dog ek sê maar net).

En oor 'n uur ry ek en Johan lughawe toe. Hy en 'n kollega gaan Duitsland toe vir 'n paar dae vir werk, en dan (terwyl hy in Europa is) gaan hy sommer gou-gou vir sy boetie Wouter kuier in Noorwee!! Ek moet erken, ek het gehoop wanneer hy uiteindelik Noorwee toe gaan ek saam sou gaan, maar hierdie kuier gaan baie goed wees vir hul beide so dis OK. Hy gaan Dinsdag oggend, 26 Aug. terug wees.

OP 'N SOORTGELYKE NOOT...

Besige naweek vir almal behalwe ons

Nog 'n naweek suksesvol afgehandel :-) Dit was baie rustig, geen gekuier of weggaan nie. Ek kan natuurlik nie dieselfde sê van die res van my onmiddelike familie nie...

Danie se koor toer in Europa, Shani doen duikrolle in Namibië (wel, eintlik stap sy, die gerol was teen geen ekstra koste ingesluit), Johan se ouers kuier in Noorweë, my ouers kuier op 'n plaas naby Mesina, Carla is weg saam met 'n vriend... sjoe, almal het hulself goed bekwaam hierdie naweek!

Ek het Saterdag vir my 2 nuwe craft boeke gekoop, en is nou besig om 'n projek uit een uit te maak. Sien, ek was darem bietjie besig. (Sal die eindresultaat op Creative Paper Trail pos as dit klaar is.)

OP 'N SOORTGELYKE NOOT...

Noorweë toe

My skoonouers het vir Wouter (Johan se broer) gaan kuier vir 'n maand. Dis mos nou somer in Europa—en nóú is definitief die beste tyd om in 'n 'koue' land te gaan kuier (veral as jy van sonnige S.A. af kom...)

Wouter is mal oor reis, en hy het seker gemaak dat hul stukke van Europa sien terwyl hul daar is. Hulle gaan juis more vir 'n week lank Italië toe. Die laaste stuk van die vakansie gaan hul help om Wouter-hulle se nuwe huis op te knap.

Ek moet sê ek's nogal jaloers.

OP 'N SOORTGELYKE NOOT...

Wouter kom Suid-Afrika toe met trio EN verloofde!

Wouter & sy trio Skasei (Noorweë) kom vir 6 weke Suid-Afrika toe. Hoewel hulle 'n konsert en workshops gaan aanbied, is dit grotendeels 'n vakansie. Hul gaan o.a. 2 weke Mosambique toe.

Maar daar is iets anders wat hierdie besoek so opspraakwekkend maak. Wouter bring iemand saam - sy verloofde! Ons het al so 1 of 2 mik-en-druk foto's gesien met haar op, maar soos almal weet, is foto's 'n slegte bron vir karakterpeiling. Ek sien BAIE uit hierna!

« Skasei (Norway):
Ingerine Dahl – violin
Wouter Raubenheimer – viola
Ilmari Hopkins – cello

OP 'N SOORTGELYKE NOOT...

Ons kuier by Eben & Christien Appel

Ons het die Paasnaweek (13-17 Apr.) by Eben & Christien gaan kuier in Margate. Dit was fantasties - en dis nie omdat dit by die see is nie ;-). Hulle is van die amazingste, gaafste en mooiste mense wat ek ken. Ons het rondgery, strand toe gegaan, by die Top Chef in die land se restaurant (Lynton Hall) gaan eet, gebraai, gekuier, gelag, foto's geneem, na hul studio (Appel Photography) gaan kyk, nog foto's geneem...

In kort, hulle is die tipe mense wat jou lewe verryk. Ek is so dankbaar as ek dink aan hoe gelukkig ons (ek en Johan) is!

Eben & Christien AppelEben & Christien Appel

OP 'N SOORTGELYKE NOOT...

Wouter is hier vir vakansie

Wouter (Johan se broer) het besluit om sy Kersvakansie in sonnige Suid-Afrika deur te bring, i.p.v. in die donker, nat, yskoue Noorweë. Hy't net 2 weke af vir Kersfees en Nuwe Jaar, maar hy't sommer nog 2 weke verlof ingesit, en het gister hier aangekom. Ouma Lulu is natuurlik baie bly as haar gunsteling kleinseun kom kuier!

'n Brokkie goeie nuus is dat die universiteit in Stavanger sy kwartet borg om gedurende Februarie 2006 in Suidelike Afrika te toer - Wouter-hulle gaan sommer 'n hele safari daarvan maak met Landrovers en tente, want van die ander was nog nie in Afrika nie. Ek en Johan is uitgenooi om saam te gaan. Dit klink nogal opwindend.

OP 'N SOORTGELYKE NOOT...