Showing posts with label Kroos. Show all posts

Oop brief aan my glimlag kind

Aiden op Voëlklip strand, Hermanus. (9 Nov. 2015 – 9½ maande)

Liefste Aiden,

Jy is my vreugdeskind, my lag baba. Elke keer wat jy glimlag dan loop my beker oor. Die beste deel van my dag is wanneer ons speel en jy lag so lekker uit jou maag uit — dis die wonderlikste ding vir 'n mamma, om te weet ek het daardie uitdrukking van suiwer genot op jou gesiggie gesit!

Jy glimlag maklik en gereeld, maar moet nooit dink ek aanvaar dit as vanselfsprekend nie. Elke glimlag is kosbaar; elke laggie bêre ek in die skatkamer van my hart. Elke keer wat ek 'n herinnering daar uithaal voel ek oorweldigende dankbaarheid en vreugde.

Jy is my vreugdeskind, want jy bring 'n aansteeklike vreugde saam met jou pragtige gesindheid — my lewe is ryker en loop oor van vreugde vandat jy daarin is.

Ek is so dankbaar jy's myne. My Aiden, ek is vir altyd joune.

Liefde,
Mamma

OP 'N SOORTGELYKE NOOT...

Linnae speel: die volle verhaal van 'n 2-jarige se pret


Linnae is 'n baie energieke, ekspressiewe, en emosionele 2-jarige dogtertjie. Alles wat sy doen, doen sy met oorgawe: of sy speel, sing, dans, huil, kla, of veg teen die slaap.

Dit is veral waar met speel, en van my mooiste herinneringe van haar het gebeur tydens speeltyd—en volgens Linnae is dit heeltyd speeltyd, so die pret hou nooit op nie.

Toe ek sien hoeveel foto's ons van haar het wat speel net in die laaste 2 maande, toe móés ek hierdie layout maak. Elke foto is op een of ander manier spesiaal, hetsy vir die speletjie of die herinnering. Omdat daar soveel herinneringe agter elke foto is, verdien elkeen hul eie storie:


Linker bladsy (v.l.n.r. & b.n.o.):

Gly: Linnae is mal oor parkies, en naas swaai is gly haar gunsteling aktiwiteit. Daai gesiggie wat sy op die foto trek, dis haar "ek is in ekstase" uitdrukking.

Deegspel: Sy "bak graag koek" met die speeldeeg en dan kry elke liewe persoon wat sy ken 'n stukkie. Soms bou ek goed vir haar (soos 'n nessie met eiers, of 'n voëltjie, of 'n huis) en dan druk sy haar vingers in dit en sê, "Hysie bweek." (= huisie het gebreek). Meeste van die tyd maak ek balle wat sy plat druk (met hulp) en dan druk ons vormpies uit met koekiedrukkers. Haar gunsteling vorms is die gemmerbroodman, wilde diere, en verskillende blomme (dit word opmekaar gestapel om koeke te vorm).

Strand: Linnae is MAL oor die strand. Sy sal ure spandeer in die sand, en op daardie spesifieke dag was Gloria saam. Gloria is natuurlik ook een van Linnae se gunstelinge, en hul speel vreeslik lekker saam.

Dromme: Sy kan nog nie saam met die Xbox speletjie ("Rock Band") dit doen nie, maar dit maak nie saak nie. Sy slaan daai dromme met oorgawe, en sy wil albei stokkies hê, baie dankie.

Swem in die see: By verre haar gunsteling ding om te doen. Sy's 'n klein Ysbeer in training; sy gee nie om dat die water yskoud is nie, swem wil sy swem selfs al bewe sy soos 'n biesie en word haar lippies potblou van die koue. Ongelukkig kan ons nie in die winter in die see swem nie, en dan mis sy dit baie.

Swaai: Haar gunsteling aktiwiteit wat nie water of sand insluit nie.

"Kaalbas": Sy is mal daaroor om kaal uit te trek, en dan al gillend deur die huis te hardloop terwyl ek haar jaag—iets wat gereeld met badtyd gebeur. Sy kan nog nie self haar hemp uittrek nie, en sy't onlangs eers sukses begin behaal met haar broeke, so as sy lus is dat ek haar moet jaag op enige ander tyd, dan trek sy haar kouse en skoene uit en skree, "Kaalbas! Mamma váng!" voor sy begin hardloop, vol vertroue dat Mamma als gaan los en agter haar aanhardloop.

Sandput: Dis die troosprys wanneer die weer te koud is om strand toe te gaan, maar sy laat dit lyk soos die beste ding wat nog ooit met haar kon gebeur het. [Ek is so mal oor my dogtertjie!]

"Hoed": Sy't nog tot onlangs deur 'n fase gegaan waar sy enigiets op haar kop gesit het vir 'n hoed. Haar lys van "hoede" sluit in: plekmatjies, sakke, Mamma se vuil klere wat uit die wasgoedmandjie gevis was, enige plastiekbakkie (uit die Tupperware kas), boeke, papiere, speelgoed, deeg, ens.


Regter bladsy (v.l.n.r. & b.n.o.):

Diere: Sy het soveel deernis vir diere. Alle diere word gegroet waarookal ons gaan ("Hallo hondjie, hallo hondjie.") Honde en katte word gevryf en as hul vriendelik genoeg is, opgetel. Iemand het eendag vir haar 'n babahasie gegee om vas te hou by die petting farm, en sy het vir meer as 'n uur die hasie in haar truitjie vasgehou terwyl sy net daar rondgedrentel het—sy't geweier om hom neer te sit.

"Binne-in": Soos die "hoed" fase, is sy ook tans in 'n fase waar sy binne-in alles wil gaan sit: laaie, bokse, emmers—enige houer wat groot genoeg is. Ek het nou die dag vir haar 'n bak met water (skaars  buite neergesit om mee te speel en toe ek weer sien, toe sit sy klere en al binne-in die water, met haar boudjies en voete wat net-net in die bak inpas.

Borrels blaas: Die dag toe sy dit reggekry het om self borrels te blaas was toe die avontuur éérs begin het. Dis ons beste binnenshuise aktiwiteit, gevolg deur boekies lees.

In die bad: Sy is mal oor water, en haar badspel is so divers en interessant as haar normale spel. Raai wat is haar gunsteling badspeelding? Nee, dis nie enige van die dosyne duur, fancy winkelspeelgoed nie, maar 'n klein plastiekkoppie wat eens op 'n tyd babakos in gehad het en per ongeluk nooit weggegooi is nie.

"Device": Dis die "nanny" wanneer ons nodig het om haar besig te hou. Sy sal vir ure kan speel as ons nie 'n limiet daarop sit nie, en dis gewoonlik 'n groot gestoei—met indrukwekkende waterwerke—wanneer ek dit uiteindelik wegvat.

Aiden: Linnae is só lief vir haar boetie! Sy sal hom drukkie en soentjie en drukkie tot hy naderhand nie weet wat aangaan nie! Sy dra vir hom speelgoed aan, wys vir hom dinge, verduidelik vir hom mooi hoe die lewe werk, en vertel vir hom sulke laaaaang stories. Sy't ook begin om met hom te speel: sy sal wegkruip (gewoonlik deur te lê op die grond as hy in sy waentjie of op die bed sit) en dan namens hom uit te roep, "Waar's Linnae?" Dan pop sy skielik daar langs hom op met 'n "Daar's sy!"; dan gee sy 'n hoë gilletjie en duik weer af grond toe. Herhaal.
Maar net om te verseker dat die delikate balans tussen kleinboet en grootsus behoue bly, sal sy net so vinnig sy speelgoed wegvat ook, en geniepsig raak wanneer sy voel hy kry meer aandag as sy. En moenie vergeet van al die epic bytmerke wat sy al uitgedeel het nie...

Mamma se skoene, juwele, ens: Dis baie oulik om te sien hoe sy met my skoene probeer loop, veral as sy hul onderstebo-agterstevoor-skeef aan het. Selfs Pappa se skoene word nou-en-dan getoetsbestuur, maar hy het sulke groot voete dat sy al geleer het dat dit nie die seerval werd is nie. Ander goed wat sy ook graag opsit is brille. Sy mag nie aan Mamma se bril vat nie ('n opdrag wat sy gereeld geignoreer het, tot sy hom eendag gebreek het...), maar donkerbrille en speelgoedbrille trek haar soos 'n magneet. Alice bands is nog iets wat sy nie kan weerstaan nie. Sy sit hul graag op dat die bokant oor haar oë is, en dan maak sy of dit 'n bril is.

Bal: Haar eerste woord was "bal", en dit was nog altyd een van haar gunsteling speelgoed. Sy kan 'n bal skop en gooi, en as jy haar vooruit waarsku en stadig gooi, sal sy 'n groot bal kan vang ook. Sy't so cute ding begin waar sy 'n entoesiastiese sprong gee voor sy die bal vang, wat natuurlik maak dat sy die bal mis, maar haar vreugde is so aansteeklik dat ek nie die hart het om vir haar te sê om dit nie te doen nie.

—oOo—

Natuurlik is daar baie meer as hierdie 16 dinge. Daar's byvoorbeeld ballonne, haar nuwe skopfiets, dans en sing, en natuurlik boekies lees en teken, twee van haar ander gunsteling binne-speel aktiwiteite.

Maatjies is 'n ander belangrike ding vir Linnae. Sy speel veel eerder saam met iemand as alleen, en is mal oor maatjies—vreemd of bekend, oud of jonk, sy is 'n equal opportunity friend. Sy is nou in 'n seisoen waar sy spontaan drukkies uitdeel vir enige kindjie wat lyk of hy/sy dit nodig het, en dit maak my ontsettend gelukkig dat sy so vroeg al uitreik na ander sonder om skaam of teruggetrokke te wees. Sy't ook baie compassion en kan dit nie verdra as 'n maatjie huil of ongelukkig is nie; sy sal hulle baie drukkies gee en heeltyd vir my vra of hulle orraait is.

As ek kyk hoe lekker sy en Aiden alreeds saamspeel sonder dat hy veel kan doen, kan ek nie wag vir die dag wat Aiden begin terug speel nie!


(Om meer te lees oor die tegniese aspekte van die scrapbook layout, soos watter sagteware en digital supplies ek gebruik het, en hoe ek beplan om dit te gebruik, sien die inskrywing op my crafty blog.)

OP 'N SOORTGELYKE NOOT...

Ons baba seuntjie is 6 weke oud


Aiden is nou 6 weke oud. Dis ongelooflik hoe vinnig die tyd vlieg! Die mannetjie is 'n fees. Hy is rustig en tevrede, en huil amper nooit nie. Dit beteken nie dat hy my nie in die middel van die nag wakker hou nie—inteendeel!—maar ek verwonder my aan hoe verskillend dit hierdie rondte is in vergelyking met toe Linnae gebore was. Selfs die bevalling was heeltemal anders (en definitief makliker, maar hul sê dis gewoonlik so vir die tweede kind).

My ma het kom help tydens en na die geboorte, en het uiteindelik meer as 'n maand gebly. Toe ons Linnae gehad het, was dit net ek en Johan, en dit was die regte ding gewees vir ons op daardie stadium. Maar dié keer het ons vir Linnae gehad om aan te dink, so ons het vir Ouma gevra om van die begin af te kom. Was ek dankbaar daarvoor! Ons (ek) sou nie oorleef het sonder die ekstra hulp nie, en ek dink dit was baie goed vir Linnae om soveel tyd saam met haar Ouma te kon spandeer, veral omdat dit positiewe, opbouende aandag was wat perfek was vir Linnae se spelerige persoonlikheid.

Nou is Ouma weg en ek het gister my eerste smakie gehad van om 'n peuter en baba alleen te hanteer.

"So, hoe was dit?" hoor ek jou ywerige vra.

Wel, ek kan aan 'n paar maniere dink om dit te beskryf, maar sal bloot hou by UITMERGELEND. Om te sê dis 'n voltydse werk is misleidend, want selfs mense wat voltyds werk het gedurig oomblikke deur die dag waar hul 'n kort breuk kan vat (soos vir middagete, om badkamer toe te gaan, of selfs vinnig Facebook te check...). Ek het heeldag in my nagklere spandeer bloot omdat daar geen tyd was vir aantrek nie, en ek kon eers my tande teen die aand borsel. Ek ag dit 'n prestasie dat Linnae dag klere aangehad het voor middagete, en 'n wonderwerk dat beide gebad was voor die dag uitgeloop het.

Maar dit sal beter raak, en hierdie seisoen sal verbygaan. Een van die dae hardloop Aiden hier rond agter sy sussie aan, en dan wonder ons waar het die tyd heen verdwyn. So ek gaan nie kla nie, ek gaan bloot elke oomblik geniet, en die paar oomblikke wat nie genotvol is nie probeer oorleef, en bowenal, dit alles probeer onthou.

OP 'N SOORTGELYKE NOOT...

Haai oe, dis alweer sulke tyd!

Sonar van Boeta op 15 weke

Dis 'n wonderlike, maar effens surreal ervaring om vir 'n tweede keer swanger te wees wanneer dit voel of jy skaars laas maand die eerste een in die wêreld gebring het.

Linnae was skaars 'n jaar oud toe ons op 12 weke die eerste sonar gedoen het, en sy het nog nie genoeg verstaan om te besef wat aangaan nie. Maar toe ons laas Oktober die 24 weke sonar gedoen het was sy amper 15 maande, en wat 'n verskil maak daardie 3 maande nie! Sy het ware insig getoon toe Johan vir haar die baba wys op die skerm, en verduidelik "hierdie is 'n foto van hom in Mamma se maag". Toe als klaar was en ek sit regop, toe strek sy haar arms uit na my en toe sy op my skoot land met 'n luide "Baba!", begin sy my hemp lig om by my maag en die baba uit te kom.

Ons het ook met daardie besoek uitgevind dis 'n seuntjie. My pa het dit natuurlik van die begin af "geweet", so dit het natuurlik gelei tot groot trots en 'n gebraggery :-D

Elmi 18 weke swanger

Ek onthou hoe die oorblywende 3 maande eindeloos voor my uitgestrek het — om swanger te wees is grotendeels okei as jy nie heeltyd naar is nie, maar wanneer die laaste trimester aanbreek raak dit 'n schlep. Maar ek is nou op 35 weke (m.a.w. ek is nou op daardie laaste maand) en noudat ek op die bittereinde is kry ek swaar, veral met 'n klein peutertjie wat baie aandag verg. My vroedvrou sê altyd, "'n Vrou is 8 maande en 'n jaar swanger." Wel, ek wens hierdie laaste jaar maand wil net verby dat ons lewe weer kan aangaan!

So, om nie te verval in 'n pity party nie hou ek my oog op die prys: 'n nuwe bondeltjie lewe, een wat ons lewens ver bo ons verwagting gaan verryk en verander.

Ons gesin

Linnae gaan presies 1½ jaar oud wees wanneer hy gebore word, 'n ideale gap volgens almal wat mos so alles weet. Ek kan nie wag om te sien hoe Linnae en haar nuwe boetie met mekaar gaan wees nie! Linnae gaan 'n fantastiese ousus wees. Sy is sosiaal, koesterend, en liefdevol selfs met wildvreemdes. Dit lyk ook of sy die idee van 'n "baba in my maag" wat haar boetie is heeltemal aanvaar, selfs verwelkom. Sy maak gereeld my maag oop om by Boeta uit te kom, en dan vryf en soen en drukkie sy haar boetie tog te kostelik terwyl sy "baba, baba," sê.

OP 'N SOORTGELYKE NOOT...

Speeltyd Giertjies

Linnae het sulke "dingetjies" wat sy doen wat te kostelik is, en dit verander soos sy groter word. Een van haar giertjies deesdae (van so 7 maande af) is om goed te blaas: sy sit haar mond op dit en blaas dat mens net spoeg en borrels sien spat, met bygeluide (dit klink so "ghhhhwwww").

Hier is 'n 10 minute deursnit van mat-tyd:


  1. Sy begin gewoonlik in 'n sittende posisie.
  2. 5 minute later is sy op haar hande en knieë, reg om te begin kruip (iets wat sy nog nie kan doen nie).
  3. Na 'n lang beraadslaging van, "Gaan ek? Gaan ek nie?" en 'n vorentoe/agtertoe gewieg, split daai beentjies en land sy plat op haar maag. Dan begin die halfhartige kreungeluidjies in die hoop dat mamma hierdie probleem oplos. (Dis haar "Mamma tel my regop dat ek kan staan!" gesiggie). Maar voor jy haar jammer kry...
  4. Sy't al klaar vergeet wat sy wou doen, want die mat is net te aanloklik, en al wat jy dan sien is spoeg en "ghhhhhwwwww" soos sy die mat blaas.
  5. "Maar wat is dit? Iets wat blink!"
  6. "Ghhhhhhwwwwwww!" (teen die badjie se rand).
  7. "Maar wat is dit? Balle!" (Die badjie word getiep dat die balle uitrol). 
  8. Probeer al die balle wat binne bereik is optel en blaas. Meeste stoot sy weg, maar die paar wat sy raakvat word almal geproe en geblaas voor sy 'n volgende bal gewaar. Dit hou aan tot sy óf almal laat wegrol het, óf iets anders haar aandag vang, soos die mat in die geval. 
  9. Herhaal stap 4.

OP 'N SOORTGELYKE NOOT...

Linnae by die see (Scrapbook bladsy)

Aah, vandag het ek actual familie nuus om te deel.

Johan is besig om Linnae te leer van die see, en elke keer wat ons strand toe gaan geniet sy haarself gate uit! Johan hou haar gewoonlik vas en stap dan kniediep in die see in. Linnae is telkens betower deur die water wat onder haar deurspoel, en die golwe wat nooit ophou beweeg nie, en raak so opgewonde dat sy kraai van genot en haar twee beentjies so styfskop.

Ek neem natuurlik net foto's en sorg dat ek droog (en warm!) bly ver van die water se rand af :P .

Krediet: Digitale papierpak "Happy Days" deur Wishing Well Creations (gekoop via Pixels and Company)

OP 'N SOORTGELYKE NOOT...

Ek is swanger!

Dinge was stil hier rond die laaste jaar of so. Behalwe vir die "filler posts", het ek einde 2011 laas iets substansieël oor ons lewe geskryf, toe ons oppad was om te trek. Wel, ons het intussen in Hermanus aangekom en daar het baie water in die see geloop sederdien, maar niks wat kers vashou by dít wat my skielik uit my jarelange hibernasie uit laat wakkerskrik het nie.

Ek is swanger.

Die nuus het gebreek tydens die Desember vakansie (2012), toe my ouers, Johan se ouers, Wouter en Benedicte, Helandré-hulle, én Willem se hele gesin in Hermanus by ons gekuier het. Ek het niks vermoed nie, nie eers toe ek die 'simptome' begin toon het nie (ontsettend moeg, duiselig, naar…). Die "Aha!" oomblik was toe die reuk van koffie my in my spore laat vassteek het… en toe weet ek.

Twee dae later het die swangerskapstokkie bewys wat ek vermoed het: ek is definitief swanger. (Johan het nou nog daai ding, dit was 'n baie groot oomblik vir hom.)


Die eerste 3-4 maande was baie swaar vir my. Ek was doodmoeg, energieloos, en totaal ongemotiveerd om enigiets te doen. Ek was ook konstant naar, en hoewel ek nooit opgegooi het nie, was dit byna ondraaglik as ek gestaan of beweeg het. Dus het ek letterlik tussen Januarie en April in die bed gelê. Soms het ek vir afwisseling na die sitkamerbank geskuif (en verder gelê).

Almal het my verseker dis normaal, maar ek het nie besef hoe totaal useless ek was, of hoe down in the dumps ek eintlik gevoel het, tot daardie lethargy gelig het teen die einde van daai tyd nie, ver verby die 21 weke merk.

Die eerste flikker van lig het begin deurbreek rondom die tyd waar ek vir die eerste keer die baba voel skop het. Stadig maar seker het ek stukkie vir stukkie begin teruggekeer na die land van die lewendes—tot beide my en Johan se verligting. Die laaste week of so voel ek vir die eerste keer weer werklik mens.

Tydens ons 21 weke detail sonar het ons uitgevind dis 'n dogtertjie — my pa het dit voorspel, en net bewys wat ek nog altyd vermoed het: my pa is altyd reg ;D.


Soos wat ek nou hier tik is ek 26½ weke swanger, en Babygirl is 'n baie woelige dingetjie wat selde stillê. Inteendeel, as sy langer as 'n halfuur nie skop of vroetel nie dan is dit lank.

Aan die begin was dit onwerklik, 'n spul simptome wat geen konneksie gehad het met die feit dat daar 'n lewe binne my groei nie. Maar nou is dit anders.

As ek nou dink aan die klein mensie binnekant my, kry ek 'n oorweldigende gevoel van dankbaarheid, liefde, protectiveness, en trots. Ek is sterk bewus van die groot taak wat voorlê, om 'n dogter groot te maak. Ek voel die verantwoordlikheid van om Ma te word, om nou aan iemand anders te dink voor myself, dat my lewe skielik 'n totaal nuwe rigting gaan inslaan en nooit weer werklik myne gaan wees nie.

Ek voel ook 'n gesonde dosis vrees, want wat voorlê is onbekend en skrikwekkend, en daar's geen handleiding beskikbaar vir iets wat soveel gewig dra nie.

Maar uiteindelik voel ek hoop en opwinding, want sy is my dogter, my eersteling, en sy besit reeds my hart. En ek weet ek is nie alleen hierin nie. Johan gaan 'n wonderlike pa wees, daarvan is ek absoluut oortuig, en God se hand is oor ons; Sy beloftes is oor ons kinders. Ja, ek het hoop, en dit maak my opgewonde oor die toekoms.


Ek kan nie wag om haar vas te hou en lief te hê nie. Ek sien uit daarna om haar te begelei op hierdie avontuur van grootword, om te sien hoe sy ontpop in haar eie persoon met haar eie maniertjies en streke en persoonlikheid.

Dit gaan nie maklik wees nie, maar ek weet dit gaan definitief dit werd wees. Ek sien beslis uit na die toekoms!

OP 'N SOORTGELYKE NOOT...