My projekte

00:44 CornflowerBlues 0 Kommentaar

Ek het 'n paar projekte in die pyplyn, meestal te doen met stories skryf, papier plesier, of 'n vorm van rekenaar ontwerp.

Stories Skryf

Ek skryf stories al van kleins af, maar dit was eers in 2010 dat ek vir die eerste keer 'n roman (novel) begin skryf het – 'n lewenslange droom.

Daar het intussen baie water in die see geloop. Ek het die indrukwekkende 6-maande skryfkursus, How to Think Sideways (HtTS) deurgewerk, en 'n suksesvolle NaNoWriMo afgehandel. Ek het ook agtergekom wat 'n geweldige hoë vlak van toewyding, tyd en geduld dit verg om by 'n publiseerbare manuskrip uit te kom, iets wat tot nou toe my ontwyk.

So, nou skryf ek maar om die stemme te stil, en dalk, net dalk kom daar iets van waarde aan die ander kant uit. Ek gesels gewoonlik oor hierdie onderneminge op my kreatiewe blog, waar ek ook oor al my ander projekte skryf.

Papier Plesier

Wat 'n mooi woord vir paper crafting! In my geval beteken dit die maak van kaartjies, maar ook die occasional scrapbook bladsy en enigiets kreatiefs wat ek uit papier kan maak. Al my papierskeppings land uiteindelik op my kreatiewe blog.

Project Life

Met die dat ons lewe 'n nuwe seisoen ingaan noudat ons kleinding oppad is, gaan ek 'n nuwe rigting inslaan met my scrapbooking. Tot nou was dit suiwer oor die kreatiewe proses, maar ek is al hoe meer bewus van die waarde wat Memory Keeping inhou, veral vir ons kinders. Project Life is 'n scrapbook sisteem, ontwikkel deur Becky Higgins van Creating Keepsakes faam, wat poog om die proses te vereenvoudig sodat jy kan fokus op die storie agter die foto's i.p.v. die tydrowende ontwerp van 'n bladsy. Maar meer belangrik, dit dokumenteer jou lewe, die alledaagse én die unieke, en die proses is liggewig genoeg dat selfs besige mense die taak kan aandurf.

Die konsep van Project Life is briljant en definitief van waarde, maar na lang beraadslaging het ek besluit om elemente daarvan te neem en aan te pas vir myself. Dit beteken o.a. dat ek hoofsaaklik digitaal gaan, en my eie PL kits gaan ontwerp. Dit beteken ook dat ek 'n meer aktiewe rol sal moet inneem om ons lewe te dokumenteer, maar die resultaat gaan 'n wonderlike skatkis van herinneringe en geskiedenis wees wat van onskatbare waarde vir ons kinders gaan wees.

Al my Project Life pogings sal op my kreatiewe blog geplaas word, maar ek gaan dit wel op hierdie blog ook dupliseer, siende dat dit 'n direkte blik van ons lewe gaan wees, en in Afrikaans ook nog.

Rekenaar Ontwerp

Voor ek so onverwags swanger geword het, het ek groot planne gehad om te begin freelance. Ek het 'n naam uitgedink vir my besigheid, die webadres geregistreer (OpticImprint.com), begin met die nodige branding, 'n kursus geloop in die besigheidskant van webontwerp, en 'n kliënt of twee gewerf. Maar tydens my eerste trimester het al daardie plannetjies tot 'n skielike stilstand gekom a.g.v. my fisiese toestand.

Ek mag dalk nou weer beter voel, maar omdat die nabye toekoms nog onseker is, wil ek nie onmiddelik weer daardie deur oopmaak nie. Maar ek sal altyd kreatief bly, en ek sal moontlik my enkel kliënt se website bly ondersteun, maar enigiets meer as dit is vir nou op 'n hiatus.

MAAR. Met my Project Life onderneming sien ek wel die potensiaal vir 'n Afrikaanse weergawe, aangesien ek dit i.e.g. vir myself gaan maak. Maar so iets is nog vêêêêêr in die toekoms, so vir nou is Optic Imprint slegs 'n "coming soon" bladsy op die grote interwebs...

0 mense het al kommentaar gelewer: