Goed wat ons doen,

Linnae se skets proses - stap vir stap

23:08 CornflowerBlues 0 Kommentaar



Vandat Ouma Estelle hier was met Aiden se geboorte het Linnae 'n behoorlike "teken stasie", en sy geniet dit vreeslik om te teken en plakkers te plak. Haar proses is ietwat uniek en kostelik, so ek het gedink om dit met jul te deel.

Dit begin gewoonlik met haar wat my met groot oë en 'n groter glimlag aankyk en opgewonde sê-skree: "Dauw! Dauw!" (vertaling: Draw! Draw!). Dan vra ek, net om te bevestig dis wat sy bedoel, "Wil jy teken?" Indien dit so is, gee sy haar "Aaaaah!" gilletjie wat beteken sy is baie beïndruk met my insig en opgewonde oor die vooruitsig om haar plan in werking te sit. Dan hardloop sy vooruit na haar tafeltjie toe waar sy begin wys en beduie wat sy wil hê en presies hoe sy dit wil hê.

As ek die korrekte papier en penne/potlode/kryte/koukies uitgehaal het, dan vat sy gewoonlik ywerig een in die hand, pause dramaties bo die papier, en hou die ding dan na my uit met die kreet, "Help! Help!" (vertaling: Ek sal mooi verduidelik terwyl JY hier teken)

Dan begin die pret.

Kunswerk deur Linnae en mamma Elmi (12 Mei 2015). Linnae was hier 21 maande oud.

Number 1Die eerste ding wat sy altyd sê is "Boom! Boom!". Wanneer ek die boom klaar geteken het, sê sy "Appel! Appel!" en wys na die boom. Dan moet ek 'n klomp appels in die boom teken. As daar 'n oop gaatjie op die blare is, sal sy daarop druk en "Appel!" sê tot ek al die gaatjies gevul het met appels.

[Ek het vandag 'n olyfboom en 'n piesangboom geteken net vir afwisseling. Sy kon nie ophou om ôh-ôh te sê oor die olywe wat op die grond geval het nie .]

Number 2Dan druk sy haar vingertjie op die papier langs die appelboom en sê "Gwoot! Gwoot!" (=groot). Dan moet ek 'n groot appel langs die boom teken. Vir een of ander rede verskaf dit vir haar groot plesier, en spandeer sy eers 'n minuut of twee om om die beurt na die groot appel en klein appels te wys en te sê, "Gwoot!", en dan "Kyyyyyyyyn!" (=klein, gesê in so 'n hoë, piepstemmetjie terwyl sy die woord uitrek.)

Number 3Nou vir die volgende prentjie, wat enigiets kan wees, van blomme na vrugte na familielede. Op hierdie kunswerk was Oupa eerste. Sy't vir my die geel koutjie aangegee en gesê "Oupa! Oupa!". Ek het haar probeer aanmoedig om ook te teken, en dis hoe ons by #4 uitgekom het.

Number 4Daardie bruin gekrap is Oupa se hare. Ek het soos gewoonlik met 'n sirkel begin vir die gesig en toe die mond en oë gedoen. Ek was nog besig daarmee, toe begin sy met die bruin koukie Oupa se hare invul, want Linnae hou daarvan om nuttig te voel. Maar sy het ook 'n behoefte aan orde, en toe sy sien haar poging lyk nie soos Mamma s'n nie, was sy glad nie beïndruk nie, en ek kon haar nie weer oortuig om my te help teken nie .

Number 5Toe kom die res van die mense. Sy sal hul naam so twee keer uitroep en dan wys op die papier waar ek hul moet teken. Gewoonlik is die volgorde totaal random, en die mense wat sy kies verskil van prent tot prent. Sy vra baie keer dat ek Gloria moet teken, terwyl dit die eerste en laaste keer was wat sy ooit vir Connor gevra. Ek probeer ook om die mense verskillend te teken. Ek teken bv. baie keer vir Pappa (Johan) in sy swemklere met 'n body board in die hand, of vir Ouma (Estelle) met 'n emmer en grafie (omdat hul altyd saam strand toe gegaan het) of met haar selfoon in die hand (want sy was nooit sonder die ding nie—as sy nie besig was om 'n speletjie daarop te speel nie, het sy vir Linnae video's daarop gewys).

Number 6Ek was nog besig met die figure, toe begin sy om versigtig 'n plakker op elke persoon te plak. Ek vra toe vir haar wat dit is, en sy sê, "Boekie! Boekie!" So, elke persoon het 'n boek gekry om te lees.

Verdere Leesstof:

0 mense het al kommentaar gelewer: