Showing posts with label Mylpale. Show all posts

Haai oe, dis alweer sulke tyd!

Sonar van Boeta op 15 weke

Dis 'n wonderlike, maar effens surreal ervaring om vir 'n tweede keer swanger te wees wanneer dit voel of jy skaars laas maand die eerste een in die wêreld gebring het.

Linnae was skaars 'n jaar oud toe ons op 12 weke die eerste sonar gedoen het, en sy het nog nie genoeg verstaan om te besef wat aangaan nie. Maar toe ons laas Oktober die 24 weke sonar gedoen het was sy amper 15 maande, en wat 'n verskil maak daardie 3 maande nie! Sy het ware insig getoon toe Johan vir haar die baba wys op die skerm, en verduidelik "hierdie is 'n foto van hom in Mamma se maag". Toe als klaar was en ek sit regop, toe strek sy haar arms uit na my en toe sy op my skoot land met 'n luide "Baba!", begin sy my hemp lig om by my maag en die baba uit te kom.

Ons het ook met daardie besoek uitgevind dis 'n seuntjie. My pa het dit natuurlik van die begin af "geweet", so dit het natuurlik gelei tot groot trots en 'n gebraggery :-D

Elmi 18 weke swanger

Ek onthou hoe die oorblywende 3 maande eindeloos voor my uitgestrek het — om swanger te wees is grotendeels okei as jy nie heeltyd naar is nie, maar wanneer die laaste trimester aanbreek raak dit 'n schlep. Maar ek is nou op 35 weke (m.a.w. ek is nou op daardie laaste maand) en noudat ek op die bittereinde is kry ek swaar, veral met 'n klein peutertjie wat baie aandag verg. My vroedvrou sê altyd, "'n Vrou is 8 maande en 'n jaar swanger." Wel, ek wens hierdie laaste jaar maand wil net verby dat ons lewe weer kan aangaan!

So, om nie te verval in 'n pity party nie hou ek my oog op die prys: 'n nuwe bondeltjie lewe, een wat ons lewens ver bo ons verwagting gaan verryk en verander.

Ons gesin

Linnae gaan presies 1½ jaar oud wees wanneer hy gebore word, 'n ideale gap volgens almal wat mos so alles weet. Ek kan nie wag om te sien hoe Linnae en haar nuwe boetie met mekaar gaan wees nie! Linnae gaan 'n fantastiese ousus wees. Sy is sosiaal, koesterend, en liefdevol selfs met wildvreemdes. Dit lyk ook of sy die idee van 'n "baba in my maag" wat haar boetie is heeltemal aanvaar, selfs verwelkom. Sy maak gereeld my maag oop om by Boeta uit te kom, en dan vryf en soen en drukkie sy haar boetie tog te kostelik terwyl sy "baba, baba," sê.

OP 'N SOORTGELYKE NOOT...

Ek is swanger!

Dinge was stil hier rond die laaste jaar of so. Behalwe vir die "filler posts", het ek einde 2011 laas iets substansieël oor ons lewe geskryf, toe ons oppad was om te trek. Wel, ons het intussen in Hermanus aangekom en daar het baie water in die see geloop sederdien, maar niks wat kers vashou by dít wat my skielik uit my jarelange hibernasie uit laat wakkerskrik het nie.

Ek is swanger.

Die nuus het gebreek tydens die Desember vakansie (2012), toe my ouers, Johan se ouers, Wouter en Benedicte, Helandré-hulle, én Willem se hele gesin in Hermanus by ons gekuier het. Ek het niks vermoed nie, nie eers toe ek die 'simptome' begin toon het nie (ontsettend moeg, duiselig, naar…). Die "Aha!" oomblik was toe die reuk van koffie my in my spore laat vassteek het… en toe weet ek.

Twee dae later het die swangerskapstokkie bewys wat ek vermoed het: ek is definitief swanger. (Johan het nou nog daai ding, dit was 'n baie groot oomblik vir hom.)


Die eerste 3-4 maande was baie swaar vir my. Ek was doodmoeg, energieloos, en totaal ongemotiveerd om enigiets te doen. Ek was ook konstant naar, en hoewel ek nooit opgegooi het nie, was dit byna ondraaglik as ek gestaan of beweeg het. Dus het ek letterlik tussen Januarie en April in die bed gelê. Soms het ek vir afwisseling na die sitkamerbank geskuif (en verder gelê).

Almal het my verseker dis normaal, maar ek het nie besef hoe totaal useless ek was, of hoe down in the dumps ek eintlik gevoel het, tot daardie lethargy gelig het teen die einde van daai tyd nie, ver verby die 21 weke merk.

Die eerste flikker van lig het begin deurbreek rondom die tyd waar ek vir die eerste keer die baba voel skop het. Stadig maar seker het ek stukkie vir stukkie begin teruggekeer na die land van die lewendes—tot beide my en Johan se verligting. Die laaste week of so voel ek vir die eerste keer weer werklik mens.

Tydens ons 21 weke detail sonar het ons uitgevind dis 'n dogtertjie — my pa het dit voorspel, en net bewys wat ek nog altyd vermoed het: my pa is altyd reg ;D.


Soos wat ek nou hier tik is ek 26½ weke swanger, en Babygirl is 'n baie woelige dingetjie wat selde stillê. Inteendeel, as sy langer as 'n halfuur nie skop of vroetel nie dan is dit lank.

Aan die begin was dit onwerklik, 'n spul simptome wat geen konneksie gehad het met die feit dat daar 'n lewe binne my groei nie. Maar nou is dit anders.

As ek nou dink aan die klein mensie binnekant my, kry ek 'n oorweldigende gevoel van dankbaarheid, liefde, protectiveness, en trots. Ek is sterk bewus van die groot taak wat voorlê, om 'n dogter groot te maak. Ek voel die verantwoordlikheid van om Ma te word, om nou aan iemand anders te dink voor myself, dat my lewe skielik 'n totaal nuwe rigting gaan inslaan en nooit weer werklik myne gaan wees nie.

Ek voel ook 'n gesonde dosis vrees, want wat voorlê is onbekend en skrikwekkend, en daar's geen handleiding beskikbaar vir iets wat soveel gewig dra nie.

Maar uiteindelik voel ek hoop en opwinding, want sy is my dogter, my eersteling, en sy besit reeds my hart. En ek weet ek is nie alleen hierin nie. Johan gaan 'n wonderlike pa wees, daarvan is ek absoluut oortuig, en God se hand is oor ons; Sy beloftes is oor ons kinders. Ja, ek het hoop, en dit maak my opgewonde oor die toekoms.


Ek kan nie wag om haar vas te hou en lief te hê nie. Ek sien uit daarna om haar te begelei op hierdie avontuur van grootword, om te sien hoe sy ontpop in haar eie persoon met haar eie maniertjies en streke en persoonlikheid.

Dit gaan nie maklik wees nie, maar ek weet dit gaan definitief dit werd wees. Ek sien beslis uit na die toekoms!

OP 'N SOORTGELYKE NOOT...

My lewe in 'n skoendoos


Die tyd om sak en pak te verhuis het uiteindelik aangebreek: na 'n maand van pak en laaste verpligtinge nakom, is ons uiteindelik oppad Hermanus toe. Dis amper vreemd om te dink dat ons van more af nooit weer na ons huisie in Pretoria sal verwys as "huis" nie.

Om te trek is 'n merkwaardige mylpaal in die lewe. Dis soos om skielik remme aan te slaan in die middel van die snelweg en soos 'n besetene 'n u-draai oor die middelman te maak.

Die eerste ding wat gebeur is dat diep oomblikke van introspeksie jou toeslaan. Skielik besin jy oor jou lewe, en kry jy baie redes om spyt te wees oor al die goed wat jy nooit by uitgekom het nie, al die mense saam met wie jy nooit gekuier het nie, en al die geleenthede wat jy nooit nagejaag het nie. En terwyl jy so jou besittinkies oppak ontdek jy goed uit jou verlede wat vir nege jaar in 'n hoek gelê en stof opgaar het en 'n nuwe vlaag van diep denke in jou opwakker. Dan moet daardie herinnering in 'n boks gepak word sodat dit in 'n nuwe dorp kan lê en stof opgaar, heel vergete vir die volgende nege jaar. Maar weggooi? *snak geskok na asem* Hoegenaamd nie!

Met al die meubels wat nou skielik weg is, is sulke dik lae stof vir die eerste keer in jare sigbaar op die plekkies waar niemand ooit kon skoonmaak nie (hoewel ek vermoed my Ma daar sou skoongemaak het; dis 'n ma vir jou). En jy besef ook hoeveel gemors jy opgegaar het sonder om ooit daaroor te dink. Ek sou nooit kon glo hoeveel goed in ons klein huisie kan inpas as ek dit nie self moes oppak nie.

Maar om te trek gaan nie net oor wat jy agterlaat of saamvat nie. Dis ook 'n tyd van vorentoe kyk. Dis 'n nuwe begin, 'n geleentheid om jou lewe af te stof en te polleer tot hy blink. Dis 'n tyd wanneer jy jou seëninge tel en dankbaar is vir wat jy het en waarheen jy oppad is.

Ek sien baie uit om in Hermanus te vestig -- ek spring omtrent uit my vel uit! Ek hoop net dat ek die guts sal hê om hierdie nuwe seisoen met beide hande aan te gryp. My grootste hoop is dat wanneer die volgende mylpaal verby kom, ek niks sal hê om oor spyt te wees nie. Maar soos Alan Platt gereeld sê, "Maak nie saak waar jy is nie, dáár is jy". Jy neem jou baggage saam, letterlik en figuurlik. Die goed wat jou in een deel van die land teruggehou het om jou drome uit te leef trek sak en pak saam na jou nuwe tuiste.

Ek wonder of mens ooit op 'n plek kan kom waar jy voel jy is nou volwasse, jy het "gearriveer"? Elke jaar is vir my net nog 365 dae wat verby is sonder dat ek voel ek het groot geword. Is ek die enigste een? Die liedjie "Potential" deur Chris Sligh verwoord ietsie daarvan, so ek los jul met hierdie (oop) gedagte.

Tot wedersiens.


"Potential" by Chris Sleigh

We were young, with hopes to last a lifetime
Burning dreams of anticipation
10 years on and we're still trying to figure out
what to be when we grow up
We're almost 30, still getting it together
Getting desperate
Is this gonna take forever?

Chorus:
Oh, does everybody feel this way...
Getting old but never growing up?
Oh, is there a destination waiting for me...
Where I can finally meet the [wo]man I'm meant to be?


We are young, with hopes that fade with ages
Life is full of empty pages
We're like a river, twisting and turning
But never finds the open sea

Chorus

Oh I need someone to show me
Where could I begin
Oh, I need someone to lead me
Hold my hand and take me
To where I've never been

I'm getting desperate
Is this gonna take forever

Chorus
 (Lyrics from www.6lyrix.com)

OP 'N SOORTGELYKE NOOT...