Diep Dinge,

Evolusie en die alewige skeppingsleer debakel

23:44 CornflowerBlues 0 Kommentaar

So 'n rukkie terug het ek geskryf oor Informasie Oorbelading waarin ek navorsing aangehaal het via 'n nuus artikel op Discovery.com. Die skrywer van daardie artikel—'n wetenskaplike—het 'n soliede artikel geskryf, maar sy slotsom aangaande evolusie vs. skeppingsleer was definitief nie wetenskaplik nie. As 'n intelligente, denkende Christen kon ek dit nie ignoreer nie en het belowe om 'n opvolg te skryf wat spesifiek dit aanspreek. Hierdie artikel is Deel 1 van 2.

Deel 1: Evolusie en die alewige Skeppingsleer debakel


In die artikel "1 in 4 Americans Don't Know Earth Orbits the Sun. Yes, Really" het die joernalis/wetenskaplike, Ian O'Neill, die stand van wetenskap in Amerika bekla—en hy het al my simpatie—maar hy het ongelukkig 'n kritiese fout gemaak na die einde toe waar hy die toestand van wetenskap in Amerikaanse skole kritiseer, en dit het my met 'n suur smaak in die mond gelos.

Hy het verwys na sommige Amerikaanse state wat publieke skole toelaat om alternatiewe tot evolusie (spesifiek skeppingsleer, of creationism) saam met hul evolusie kurrikulum te leer, en het daaroor gesê:

"Schools across the nation are currently facing the unthinkable notion of teaching creationism alongside evolution in science classrooms. The fact that religion is given the same standing as science is not only absurd, it's a fundamental institutional failing where children (who may be excited to learn about science) will grow up with a second-rate education, neglecting decades of scientific knowledge in favor of pseudo-scientific religious agendas.

For a nation that prides itself on science and discovery, it will be a tragedy on a national scale if fundamental science is undercut by superstition and the bad policies it inspires."
– Ian O'Neill, "1 in 4 Americans Don't Know Earth Orbits the Sun. Yes, Really." Discovery.com News, 14 February 2014 (my beklemtoning)

Dis 'n mondvol, so laat ek dit gou afbreek. Wat hy eintlik sê is dat skeppingsleer, wat gewortel is in godsdiens (en let op die insinuasie dat godsdiens en wetenskap onversoenbaar is—praat van agendas), lankal verkeerd bewys is deur evolusie, of in ander woorde, dat skeppingsleer wat gebaseer is op superstisie en wensdenkery, dekades terug al vervang is met die beter, wetenskaplike opsie genaamd evolusie.

Die skrywer het daar sy eie blindheid uitgelig, wat ongelukkig die blindheid is van meeste wetenskaplikes vandag.

Godsdiens is nie superstisie nie

O'Neill se openlike minagting vir godsdiens is ongeskik en disrespekvol, maar sy sentiment is nietemin te verstane en definitief nie uniek nie. Sy stelling dat godsdiens dieselfde is as superstisie is egter 'n probleem, en meer so omdat dit uit die mond van 'n wetenskaplike kom.

Superstisie praat van 'n geloof in die irrasionele, iets wat onmoontlik kan waar wees en geen gronde vir bestaan het nie. As 'n slim, helderdenkende, pro-wetenskaplike Christen, neem ek geweldig aanstoot oor so 'n blatant onkundige stelling. Ek gee nie om hoe verlig iemand homself ag nie, enigiemand wat objektief kyk na die bewyse vir 'n realm buite die fisiese (i.e. buite die empiriese) asook die bestaan van 'n geestelike kant van die mens, sal sien dat dit baie sterk daarop dui, nie daarteen nie. (Omdat dit buite die realm van wetenskap lê is daar geen manier om sonder twyfel te bewys dat dit bestaan of nie bestaan nie; omstandigheidsbewyse ("circumstantial evidence") en interpretasie is die beste wat ons kan doen.)

In wetenskaplike terme skep dit genoeg redelike twyfel ("reasonable doubt") dat 'n objektiewe wetenskaplike die moontlikheid data dit bestaan sal erken, selfs al glo hy nie self daarin of stem hy nie saam met "godsdiens" nie.

Die probleem met evolusie

Ek stem wel saam dat 'n wetenskap klaskamer nie die plek is om jou Bybel (of enige godsdienstige teks) uit te ruk nie. My beswaar is dat O'Neill een oomblik kla oor "pseudo-scientific ... agendas" en dan die volgende oomblik evolusie, wat in dié geval areas soos die Big Bang Teorie en makro-evolusie insluit, klassifiseer as "fundamental science".

Die Big Bang Teorie, ten spyt van sy wye ondersteuning, maak 'n paar kontroversiële aannames, en dis 'n belediging vir die integriteit van wetenskap om dit "fundamenteel" te noem.

Voor ek verder gaan moet ek eers verduidelik wat die probleem is met evolusie.

Evolusie is 'n sambreelterm wat diverse vakgebiede insluit, en elemente dek van biologie, wetenskap, en sterrekunde, tot geografie en meer, elkeen met sy eie sub-studierigtings.

Die probleem is nie met hierdie studievelde nie, maar slegs met die dele daarvan wat buite die empiriese lê, soos dié wat probeer verduidelik waar ons en ons wêreld vandaan kom, en ook die enigste areas is wat in hierdie geval relevant is omdat dit oorvleuel met skeppingsleer. Areas soos inter-spesie- of makro-evolusie, die Big Bang Teorie, ens.

Big Bang Teorie: 'n Gebreekte Model

Omdat dit buite die realm van empiriese bewyse val, is die Big Bang Teorie wat ons noem 'n wetenskaplike model(2). 'n Model is 'n hipotese wat geformuleer word deur observasies en bestaande data te kombineer met insig en afleidings. Modelle word gebruik om situasies te verduidelik wat nie direk toetsbaar is nie. Dit is 'n belangrike en waardevolle deel van wetenskap omdat modelle gebruik kan word om akkurate, toetsbare voorspellings te maak oor onbekende scenarios. 'n Belangrike eienskap van 'n wetenskaplike model is dat, indien die model faal, die konsensus is dat die hipotese vals is.

Die probleem met die Big Bang Teorie, makro-evolusie, ens. is dat dit nie voldoen aan die basiese definisie van 'n wetenskaplike model nie, alhoewel dit as 'n model geleer en selfs gebruik word.

In plaas van om akkurate stellings te maak oor ons heelal en oorsprong, word die Big Bang Teorie elke keer aangepas sodra 'n nuwe, onverwagse ontdekking gemaak word. Dit plaas die Teorie in dieselfde kategorie as die noodlot—onvoorspelbaar en lukraak ("random"). Dit is nie wetenskap nie, maak nie saak hoe jy daarna kyk nie, maar wel 'n goeie voorbeeld van 'n pseudowetenskap(1).

Hierdie tekortkoming spreek nie eers die spesifieke gate in die teorie aan wat sterk wetenskaplike teen-bewyse of teenkanting het nie(3). Verder word daar ook nooit in skole genoem dat daar alternatiewe(4) is tot die Big Bang Teorie, of dat daar gerespekteerde wetenskaplikes is wat alternatiewe teorieë voorstaan bo die Big Bang nie.

Evolusie—spesifiek die Big Bang Teorie en makro-evolusie—word gepreek vanaf die wetenskap kansel as die enigste volle waarheid. Dit maak O'Neill en sy kollegas deel van 'n gekraakte fondasie wat lei tot daardie "second-rate education" wat hom so affronteer.

Ek het simpatie met die beswaar teen skeppingsleer wat in skole geleer word; ek verstaan dat dit 'n gevaarlike presedent skep wanneer godsdiens geleer word as "feite" vanaf 'n platvorm wat veronderstel is om objektief en neutraal te wees.

Maar dit is presies hoekom O'Neill se gevolgtrekking my so kwaad maak, want sy eie lieflingskind—evolusie—se tekortkominge is geensins meer aanbeveelbaar as iets soos skeppingsleer nie, wat, as jy God se naam daar uithaal, ook 'n wetenskaplike model het genaamd intelligente ontwerp ("intelligent design").

Die evolusie voorstanders is baie vinnig om intelligente ontwerp se tekortkominge en uitdagings uit te wys—en daar's genoeg daarvan, ek weet. My antwoord vir hulle is: people who live in glass houses shouldn't throw stones.

Hoekom is dit dan dat die Big Bang Teorie so aggressief verdedig word deur wetenskaplikes en die media as die enigste antwoord, as fundamentele wetenskap, wanneer dit nie 'n suiwer wetenskaplike fondasie het nie en ook nie die enigste opsie is nie?

Het ons kinders dan nie die reg om die volle waarheid, foute en al, te hoor nie? Het hul nie die reg om te weet dat hul opsies het nie?

Wel, dit is waar die spreekwoordelike pôpô die fan strike, soos hul sê, maar dit is 'n onderwerp vir 'n volgende keer.

As jy wil weet wanneer "Deel 2: God vs. die "Primordial Soup" ge-post word, los 'n comment.



Bronne:
  1. Pseudoscience (http://en.wikipedia.org/wiki/Pseudoscience)
  2. A Closer Look: Scientific Models (http://www.learner.org/courses/essential/physicalsci/session2/closer1.html)
  3. The Top 30 Problems with the Big Bang (http://metaresearch.org/cosmology/BB-top-30.asp)
  4. How the Big Bang theory works (http://science.howstuffworks.com/dictionary/astronomy-terms/big-bang-theory7.htm)

Verdere Leesstof:

0 mense het al kommentaar gelewer: