Goed wat ons doen,

Israel Toer Dagboek (3 van 7)

19:46 CornflowerBlues 0 Kommentaar

ISRAEL TOER // Dag 3 // 4 Oktober 2010

Plekke waar ons was:
  • Yigal Allon Sentrum (Boot museum)
  • Bootrit op die see van Galilea
  • Berg van Saligsprekinge ("Mt. of Beatitudes")
  • Tabgha se Sewe Fonteine Kerk (vermeerdering van die 5 brode & 2 vissies)
  • Mensa Christi (Tafel van Christus Kerk)/Peter's Primacy Kerk (waar Jesus aan sy dissipels verskyn en hul saam geëet het)
  • Yardenit, doopplek in Jordaan (waar Jesus gedoop is)

Foto van 'n prentjie-diagram wat Jesus se wonderwerke rondom die see van Galilea aandui

Vandag het ons rondom die see van Galilea verken, 'n area wat baie waarde het vir Christene a.g.v. Jesus se bedrywighede daar tydens Sy bedieningsjare. Die see van Galilea se regte naam is Yam Kinneret (Yam beteken meer [ie. "lake" in Engels]), maar het verskeie noemname, afhangende van waar jy is en wie daarna verwys (bv. mense van Tiberias noem dit die see van Tiberias, soos in Joh. 21). Dis nie rêrig 'n "see" nie, maar 'n massiewe varswater meer, hoewel dit nie verbasend is dat so 'n massa water in 'n droë land soos Israel see-status het nie :) . Boonop was daar jare gelede 'n invloei van sout water (2 van die 7 fonteine by Tabgha), maar dié word vandag herlei om die meer se water vars te hou.

Vandag se toer het begin tussen Tiberias en Tabgha, by die Yigal Allon Sentrum, ook bekend as die "Man in the Galilee" en "The Ancient Galilee Boat" museum. Hul grootste skat is die gepresserveerde vissersboot wat hul uit die meer gehaal het 'n paar jaar terug, wat dateer uit Jesus se tyd.

http://www.facebook.com/album.php?aid=241506&id=778908648&l=447712d4a5

Ons het vandaar op 'n boot geklim en uitgevaar op die see van Galilea. Na ons 'n ent gevaar het, is al die enjins gesny en het ons vir 5 minute in stilte gesit. Dit was een van daardie "moments" wat vir ewig by my sal bly. Die gedagte dat ons op 'n stuk water was waar Jesus self gereeld gevaar het, het die ervaring ontsettend persoonlik gemaak; dit het alles -- die wêreld wat die Evangelies vir ons skets, die realiteit van 'n dosyn vissermanne wie se lewens so dramaties verander het, selfs die alledaagsheid van Jesus se dag-na-dag bestaan -- so ontsaglik werklik laat voel.

Oppad terug na die oewer het hul vir ons luide lofliedere oor die luidsprekers gespeel. In my opinie het die dag rêrig goed begin :) Hier's 'n vinnige video daarvan:


Daarna het ons drie bekende plekke besoek waar Jesus volgens die Christen tradisie wonderwerke gedoen het:
  1. Die Berg van Saligsprekinge ("Mount of Beatitudes"): sien Matt. 5.
  2. Tabgha se Sewe Fonteine Kerk: die plek van die vermeerdering van die 5 broodjies & 2 vissies (sien Matt. 14).
  3. Mensa Christi (Tafel van Jesus Kerk)/Peter's Primacy: waar Jesus na Sy opstanding aan 7 van die dissipels verskyn het en vir hul gesê het om hul nette aan die ander kant uit te gooi. Hy't 'n vuur op die strand gemaak -- op 'n klip wat vandag die "tafel van Jesus" genoem word -- en na Hy saam met hul geëet het, het Hy drie maal vir Petrus gevra of hy Hom lief het (sien Joh. 21).
Al hierdie plekke is deur die Rooms Katolieke Kerk as heilig verklaar en dus besoek jy eintlik 'n kerkgebou en als wat daarmee gepaard gaan, insluitend nonne wat in die aangrensende kloosters woon. Daar was hordes toeriste van elke kleur en geur by elkeen van hierdie plekke, en as gevolg daarvan was die atmosfeer luidrugtig en distracting.

En tog. Ten spyte van die groen gemanikuurde grasperke en Europese blomtuine was daar tog iets van die ongenaakbaarheid van die land en gehardheid van die mense wat amper tasbaar was. Om daardie heuwels te voet in daardie smorende hitte uit te klim, of op die rotsbesaaide, skadulose walle te sit en luister na revolusionêre lering... dit het 'n blywende indruk by my gelos.

Daarna was ons na die ruïnes van Kapernaum. Dit was 'n belangrike stad in sy tyd, en dis waar Jesus gewoon het tydens Sy bedieningsjare. Groot dele van die ou stad se mure en paaie staan soos geraamtes en getuig van eras wat verby is. Die oorblyfsels van Petrus se huis is ook daar, en soos te verwagte was dit jare terug deur die Rooms Katolieke omsingel (hul het 'n kerk rondom dit gebou); vandag staan die kerk wydsbeen bo-oor die opgrawings, wat dit vir ons moontlik gemaak het om na hope stene te kyk sonder om nog 'n kerk binne te gaan. FYI, ons toergids het gesê die kerk staan bekend as die spaceship kerk :)

Middagete was by 'n visplek genaamd "Kibbutz Ein Gev" waar ons die lelikste (maar nietemin lekker) vis bedien is.

Foto van die heel vis wat ons geëet by Ein Gev

Ons laaste stop was by Yardenit, die doopplek van Johannes die Doper in die Jordaan rivier, waar Jesus gedoop is. Dit is vandag 'n baie populêre doopplek, veral vir Christen pelgrims -- daar's foto's waar honderde mense op die oewers en in die water saamdrom met hul wit jakkies aan om gedoop te word. Die plek is totaal oorgekommersialiseerd, en weereens was dit vir my onmoontlik om die Bybel se vertellings met die beton paadjies, metaaltralies en gedenkwinkels te versoen. Op 'n positiewe noot, ek kon darem 'n paar nice poskaarte daar koop.

Laatmiddag was ons uiteindelik oppad hotel toe, wat so na as moontlik aan die meer gebou is. Ek, Shani en 'n paar ander meisies het toe afgestap na die "strand" vir 'n bietjie alleen tyd.

Na aandete het ons weer 'n praise & worship sessie gehad saam met Retief Burger. Dit was baie spesiaal, en het gans te vroeg opgehou. Na die tyd het ons gekuier met een van ons maatjies. Shani was na 'n ruk bed toe, maar ons twee het tot diep in die nag nog gesels, waarna ons uiteindelik bed toe gestrompel het.



‹ Dag 2                                 Dag 4 ›

Foto Album         |         Index en Intro


Verdere Leesstof:

0 mense het al kommentaar gelewer: