Glansartikel,

Linnae speel: die volle verhaal van 'n 2-jarige se pret

16:58 CornflowerBlues 0 Kommentaar


Linnae is 'n baie energieke, ekspressiewe, en emosionele 2-jarige dogtertjie. Alles wat sy doen, doen sy met oorgawe: of sy speel, sing, dans, huil, kla, of veg teen die slaap.

Dit is veral waar met speel, en van my mooiste herinneringe van haar het gebeur tydens speeltyd—en volgens Linnae is dit heeltyd speeltyd, so die pret hou nooit op nie.

Toe ek sien hoeveel foto's ons van haar het wat speel net in die laaste 2 maande, toe móés ek hierdie layout maak. Elke foto is op een of ander manier spesiaal, hetsy vir die speletjie of die herinnering. Omdat daar soveel herinneringe agter elke foto is, verdien elkeen hul eie storie:


Linker bladsy (v.l.n.r. & b.n.o.):

Gly: Linnae is mal oor parkies, en naas swaai is gly haar gunsteling aktiwiteit. Daai gesiggie wat sy op die foto trek, dis haar "ek is in ekstase" uitdrukking.

Deegspel: Sy "bak graag koek" met die speeldeeg en dan kry elke liewe persoon wat sy ken 'n stukkie. Soms bou ek goed vir haar (soos 'n nessie met eiers, of 'n voëltjie, of 'n huis) en dan druk sy haar vingers in dit en sê, "Hysie bweek." (= huisie het gebreek). Meeste van die tyd maak ek balle wat sy plat druk (met hulp) en dan druk ons vormpies uit met koekiedrukkers. Haar gunsteling vorms is die gemmerbroodman, wilde diere, en verskillende blomme (dit word opmekaar gestapel om koeke te vorm).

Strand: Linnae is MAL oor die strand. Sy sal ure spandeer in die sand, en op daardie spesifieke dag was Gloria saam. Gloria is natuurlik ook een van Linnae se gunstelinge, en hul speel vreeslik lekker saam.

Dromme: Sy kan nog nie saam met die Xbox speletjie ("Rock Band") dit doen nie, maar dit maak nie saak nie. Sy slaan daai dromme met oorgawe, en sy wil albei stokkies hê, baie dankie.

Swem in die see: By verre haar gunsteling ding om te doen. Sy's 'n klein Ysbeer in training; sy gee nie om dat die water yskoud is nie, swem wil sy swem selfs al bewe sy soos 'n biesie en word haar lippies potblou van die koue. Ongelukkig kan ons nie in die winter in die see swem nie, en dan mis sy dit baie.

Swaai: Haar gunsteling aktiwiteit wat nie water of sand insluit nie.

"Kaalbas": Sy is mal daaroor om kaal uit te trek, en dan al gillend deur die huis te hardloop terwyl ek haar jaag—iets wat gereeld met badtyd gebeur. Sy kan nog nie self haar hemp uittrek nie, en sy't onlangs eers sukses begin behaal met haar broeke, so as sy lus is dat ek haar moet jaag op enige ander tyd, dan trek sy haar kouse en skoene uit en skree, "Kaalbas! Mamma váng!" voor sy begin hardloop, vol vertroue dat Mamma als gaan los en agter haar aanhardloop.

Sandput: Dis die troosprys wanneer die weer te koud is om strand toe te gaan, maar sy laat dit lyk soos die beste ding wat nog ooit met haar kon gebeur het. [Ek is so mal oor my dogtertjie!]

"Hoed": Sy't nog tot onlangs deur 'n fase gegaan waar sy enigiets op haar kop gesit het vir 'n hoed. Haar lys van "hoede" sluit in: plekmatjies, sakke, Mamma se vuil klere wat uit die wasgoedmandjie gevis was, enige plastiekbakkie (uit die Tupperware kas), boeke, papiere, speelgoed, deeg, ens.


Regter bladsy (v.l.n.r. & b.n.o.):

Diere: Sy het soveel deernis vir diere. Alle diere word gegroet waarookal ons gaan ("Hallo hondjie, hallo hondjie.") Honde en katte word gevryf en as hul vriendelik genoeg is, opgetel. Iemand het eendag vir haar 'n babahasie gegee om vas te hou by die petting farm, en sy het vir meer as 'n uur die hasie in haar truitjie vasgehou terwyl sy net daar rondgedrentel het—sy't geweier om hom neer te sit.

"Binne-in": Soos die "hoed" fase, is sy ook tans in 'n fase waar sy binne-in alles wil gaan sit: laaie, bokse, emmers—enige houer wat groot genoeg is. Ek het nou die dag vir haar 'n bak met water (skaars  buite neergesit om mee te speel en toe ek weer sien, toe sit sy klere en al binne-in die water, met haar boudjies en voete wat net-net in die bak inpas.

Borrels blaas: Die dag toe sy dit reggekry het om self borrels te blaas was toe die avontuur éérs begin het. Dis ons beste binnenshuise aktiwiteit, gevolg deur boekies lees.

In die bad: Sy is mal oor water, en haar badspel is so divers en interessant as haar normale spel. Raai wat is haar gunsteling badspeelding? Nee, dis nie enige van die dosyne duur, fancy winkelspeelgoed nie, maar 'n klein plastiekkoppie wat eens op 'n tyd babakos in gehad het en per ongeluk nooit weggegooi is nie.

"Device": Dis die "nanny" wanneer ons nodig het om haar besig te hou. Sy sal vir ure kan speel as ons nie 'n limiet daarop sit nie, en dis gewoonlik 'n groot gestoei—met indrukwekkende waterwerke—wanneer ek dit uiteindelik wegvat.

Aiden: Linnae is só lief vir haar boetie! Sy sal hom drukkie en soentjie en drukkie tot hy naderhand nie weet wat aangaan nie! Sy dra vir hom speelgoed aan, wys vir hom dinge, verduidelik vir hom mooi hoe die lewe werk, en vertel vir hom sulke laaaaang stories. Sy't ook begin om met hom te speel: sy sal wegkruip (gewoonlik deur te lê op die grond as hy in sy waentjie of op die bed sit) en dan namens hom uit te roep, "Waar's Linnae?" Dan pop sy skielik daar langs hom op met 'n "Daar's sy!"; dan gee sy 'n hoë gilletjie en duik weer af grond toe. Herhaal.
Maar net om te verseker dat die delikate balans tussen kleinboet en grootsus behoue bly, sal sy net so vinnig sy speelgoed wegvat ook, en geniepsig raak wanneer sy voel hy kry meer aandag as sy. En moenie vergeet van al die epic bytmerke wat sy al uitgedeel het nie...

Mamma se skoene, juwele, ens: Dis baie oulik om te sien hoe sy met my skoene probeer loop, veral as sy hul onderstebo-agterstevoor-skeef aan het. Selfs Pappa se skoene word nou-en-dan getoetsbestuur, maar hy het sulke groot voete dat sy al geleer het dat dit nie die seerval werd is nie. Ander goed wat sy ook graag opsit is brille. Sy mag nie aan Mamma se bril vat nie ('n opdrag wat sy gereeld geignoreer het, tot sy hom eendag gebreek het...), maar donkerbrille en speelgoedbrille trek haar soos 'n magneet. Alice bands is nog iets wat sy nie kan weerstaan nie. Sy sit hul graag op dat die bokant oor haar oë is, en dan maak sy of dit 'n bril is.

Bal: Haar eerste woord was "bal", en dit was nog altyd een van haar gunsteling speelgoed. Sy kan 'n bal skop en gooi, en as jy haar vooruit waarsku en stadig gooi, sal sy 'n groot bal kan vang ook. Sy't so cute ding begin waar sy 'n entoesiastiese sprong gee voor sy die bal vang, wat natuurlik maak dat sy die bal mis, maar haar vreugde is so aansteeklik dat ek nie die hart het om vir haar te sê om dit nie te doen nie.

—oOo—

Natuurlik is daar baie meer as hierdie 16 dinge. Daar's byvoorbeeld ballonne, haar nuwe skopfiets, dans en sing, en natuurlik boekies lees en teken, twee van haar ander gunsteling binne-speel aktiwiteite.

Maatjies is 'n ander belangrike ding vir Linnae. Sy speel veel eerder saam met iemand as alleen, en is mal oor maatjies—vreemd of bekend, oud of jonk, sy is 'n equal opportunity friend. Sy is nou in 'n seisoen waar sy spontaan drukkies uitdeel vir enige kindjie wat lyk of hy/sy dit nodig het, en dit maak my ontsettend gelukkig dat sy so vroeg al uitreik na ander sonder om skaam of teruggetrokke te wees. Sy't ook baie compassion en kan dit nie verdra as 'n maatjie huil of ongelukkig is nie; sy sal hulle baie drukkies gee en heeltyd vir my vra of hulle orraait is.

As ek kyk hoe lekker sy en Aiden alreeds saamspeel sonder dat hy veel kan doen, kan ek nie wag vir die dag wat Aiden begin terug speel nie!


(Om meer te lees oor die tegniese aspekte van die scrapbook layout, soos watter sagteware en digital supplies ek gebruik het, en hoe ek beplan om dit te gebruik, sien die inskrywing op my crafty blog.)

Verdere Leesstof:

0 mense het al kommentaar gelewer: