Persoonlik,

Gedigte uit my tiener-pen

22:00 CornflowerBlues 0 Kommentaar


'n Paar dae terug het ek afgekom op van my ou gedigte wat uit my skooldae dateer, êrens tussen 1994-1998. Die pakkie was gemerk "Onbruikbaar Of Uitgegooi".

Natuurlik het ek dit dadelik oopgemaak om te sien wat ek so onwaardig geag het, en ek was aangenaam verras. As hierdie my weggooi woorde was, kan ek nie wag om die pakkie te ontdek wat gemerk is "My Beste Gedigte Ooit, Publiseer Onmiddellik vir Roem en Rykdom!!!!!!" nie ;-).

Hier is 4 van die beste, die keur van die kaf uit my tiener-pen.


Die See

Die strale blink op die water.
Dit verblind my as ek daarna kyk.
Die golwe wat gaan lê op die strand,
Laat alles so wonderlik, rustig lyk.

Die maanhare spring af op die land.
Die wind waai sproei teen my wang.
Maar tog lyk jy ook treurig.
Na wie sou jy so heimlik verlang?


Reënboog Liefde

Geel, pers, blou,
Ek is mal oor jou.
Groen, oranje, rooi,
Jy lyk tog so mooi!

Swart, bruin, grys,
Ek wil jou iets wys.
Wit, turkoois, room,
Ek het gisteraand van jou gedroom.


Bakkies

Bakkies is my hond,
Hy's mooi vet en gesond.
Sy hare is lank en wit,
En hy't ore wat penorent sit.

In die oggend van ag tot tien
Sal jy hom altyd op ons agterstoep sien.
Daar slaap hy die oggend deur
En niks kan hom pla, dit sal jy nog leer.

Die middag na skool, as ons probeer eet,
Sal hy van alles behalwe kos vergeet.
En daar waar hy so voor jou hurk
Staar hy die kos skoon af van jou vurk.

Hy is so stuitig as wat mens maar kan kry,
As hy ons net sien raak hy vreeslik bly.
Hy waai sy stert en trek sy ore plat,
En as hy haar sien, bespring hy die kat.

Ek raak soms so moedeloos, maar wat help dit tog?
Ek sal maar moet opsit met hom én sy bog
Maar vir geen ander hond in die wêreld sal ek Bakkies verruil,
Want êrens in hom is 'n tere hartjie verskuil.


Soekie

Soekie is 'n rondloperkat,
Al lyk dit nie altyd so.
Sy's ook een van daai wat
In norms en waardes glo.

As sy uit haar slaap wek,
Sal sy láááánk strek.
Dan sal sy vir oulaas gaap
Voor sy buitentoe vertrek.

Sy en Bakkies is baie rof
As hulle buite speel.
En die lawaai wat hul opskop
Kan hul die minste skeel.

Verdere Leesstof:

0 mense het al kommentaar gelewer: