Kroos,

Haai oe, dis alweer sulke tyd!

23:00 CornflowerBlues 0 Kommentaar

Sonar van Boeta op 15 weke

Dis 'n wonderlike, maar effens surreal ervaring om vir 'n tweede keer swanger te wees wanneer dit voel of jy skaars laas maand die eerste een in die wêreld gebring het.

Linnae was skaars 'n jaar oud toe ons op 12 weke die eerste sonar gedoen het, en sy het nog nie genoeg verstaan om te besef wat aangaan nie. Maar toe ons laas Oktober die 24 weke sonar gedoen het was sy amper 15 maande, en wat 'n verskil maak daardie 3 maande nie! Sy het ware insig getoon toe Johan vir haar die baba wys op die skerm, en verduidelik "hierdie is 'n foto van hom in Mamma se maag". Toe als klaar was en ek sit regop, toe strek sy haar arms uit na my en toe sy op my skoot land met 'n luide "Baba!", begin sy my hemp lig om by my maag en die baba uit te kom.

Ons het ook met daardie besoek uitgevind dis 'n seuntjie. My pa het dit natuurlik van die begin af "geweet", so dit het natuurlik gelei tot groot trots en 'n gebraggery :-D

Elmi 18 weke swanger

Ek onthou hoe die oorblywende 3 maande eindeloos voor my uitgestrek het — om swanger te wees is grotendeels okei as jy nie heeltyd naar is nie, maar wanneer die laaste trimester aanbreek raak dit 'n schlep. Maar ek is nou op 35 weke (m.a.w. ek is nou op daardie laaste maand) en noudat ek op die bittereinde is kry ek swaar, veral met 'n klein peutertjie wat baie aandag verg. My vroedvrou sê altyd, "'n Vrou is 8 maande en 'n jaar swanger." Wel, ek wens hierdie laaste jaar maand wil net verby dat ons lewe weer kan aangaan!

So, om nie te verval in 'n pity party nie hou ek my oog op die prys: 'n nuwe bondeltjie lewe, een wat ons lewens ver bo ons verwagting gaan verryk en verander.

Ons gesin

Linnae gaan presies 1½ jaar oud wees wanneer hy gebore word, 'n ideale gap volgens almal wat mos so alles weet. Ek kan nie wag om te sien hoe Linnae en haar nuwe boetie met mekaar gaan wees nie! Linnae gaan 'n fantastiese ousus wees. Sy is sosiaal, koesterend, en liefdevol selfs met wildvreemdes. Dit lyk ook of sy die idee van 'n "baba in my maag" wat haar boetie is heeltemal aanvaar, selfs verwelkom. Sy maak gereeld my maag oop om by Boeta uit te kom, en dan vryf en soen en drukkie sy haar boetie tog te kostelik terwyl sy "baba, baba," sê.

Verdere Leesstof:

0 mense het al kommentaar gelewer: