Ek dog net ek sê...,

Informasie oorbelading maak mense dom

15:00 CornflowerBlues 0 Kommentaar



Ek is so dankbaar om in die 21e eeu te kan leef. Ons het rekenaars en internet, massiewe winkelsentrums, motorkarre, mikrogolf oonde, menseregte, Hollywood, global warming, ruimtevaart, espresso, Wikipedia, selfone, gesnyde brood, en meer kennis beskikbaar binne 'n oogwink (of 'n Google soektog) as wat die mensdom nog ooit gehad het. Ons is verlig, en baie trots daarop.

So verbeel jou my skok toe ek lees dat 25% Amerikaners—dit is 1 uit elke 4!— nie weet dat die aarde om die son draai nie. Jy't reg gelees. Dit is die nuutste data volgens 'n National Science Foundation (NSF) poll wat in Amerika gedoen is. Dit is vandag, nie 10 of 20 jaar terug nie. As dit die statistiek in Amerika is, wil ek nie eers waag raai hoe dit op ander plekke (soos in ons liewe Suid-Afrika) lyk nie.

Hierdie situasie is natuurlik baie ironies. As verligte, moderne mense wys ons graag vinger na die donker eeue en lag vir die onkunde van mense wat geglo het die aarde is plat, of skud ons koppe vir dokters wat mense gebloei het om van siektes (ie. die slegte bloed) ontslae te raak. Erger, 'n bekende reaksie op die maagdelike geboorte van Jesus is dat "die mense van die outyd te stupid was om te weet waar babatjies vandaan kom, maar gelukkig weet ons vandag van beter." Ons voel baie trots op hoe ver ons gekom het.

Ongelukkig is die realiteit dat hoewel die mensdom dalk ver gekom het in terme van uitvindings en kennis, mense nie meer ingelig of slimmer is nie. Inteendeel, ek sien al meer hoe ons as 'n samelewing aan informasie oorbelading ly. Die gevolg is dat die kwaliteit van algemene kennis baie agteruit gegaan het: vra iemand op straat om 'n vuur te maak sonder vuurhoutjies, of om die 5 voedselgroepe te noem, en hy sal nie kan nie, maar vra hom wie is 1Direction of wat beteken 007...

Informasie oorbelading is 'n baie interessante onderwerp, en meer algemeen as wat ons dink (in vandag se wêreld ly meeste mense tot 'n mate daaraan—ek wed jou jy doen ook). Dit lei ook tot 'n toestand genaamd Besluitnemingsuitputting (Decision Fatigue), iets wat Johan tans erg mee sukkel. Hier's 'n paar artikels wat daarop uitbrei:
  1. Information Overload (Global Dev. Research Center)
  2. Overcoming Information Overload (psychcentral.com) 
  3. Understanding Information Overload (www.infogineering.net)

Ter interessantheid, daardie selfde poll het ook tot die lig gebring dat die meerderheid jong Amerikaners dink astrologie is 'n wetenskap, m.a.w. jou horoskoop is gebaseer op wetenskaplike bevindings.

Kan jy jou indink?

Belangrike naskrif:


Ek wou daar ophou, maar het besef ek moet net iets noem oor die artikel wat ek na verwys het ter wille van my gewete, want die skrywer het afgesluit met 'n uitlating oor Skeppingsleer vs. Evolusie wat nie net onwaar is nie, maar ook dui op sy onkunde en totale partydigheid.

Ek het 'n aparte pos geskryf hieroor: Deel 1: Evolusie vs. die alewige Skeppingsleer debakel—toe ek eers begin tik, toe vind ek ek het nogal baie daaroor te sê :-).

Verdere Leesstof:

0 mense het al kommentaar gelewer: