Vriende

Lily se ma is oorlede

01:01 CornflowerBlues 0 Kommentaar

Een van my beste vriendinne, Lily, se ma is laas week oorlede. Dit het vir my gekom as 'n skok, want ons was nog by die see gesellig besig om as gesin 'n speletjie saam te speel toe sy my bel. As gevolg van die Kersseisoen en AFBOB se besige skedule, is die begrafnis eers more. Ek het besluit om deur te ry Pietersburg toe want die twee belangrikste goed vir Lily is haar familie, en haar vriende, en sy gaan almal se teenwoordigheid nodig hê. Hierdie is 'n verskriklike tyd om die belangrikste persoon in jou lewe te verloor.

Hier is die gedig wat sy vir haar ma geskryf het wat op die begrafnisbrief gedruk is:

Ma

Ma, ek skryf vir jou 'n gedig sonder fensie leestekens
sonder woorde wat rym sonder bywoorde
net sommer 'n kaalvoet gedig -
want jy maak my groot in jou krom klein handjies
jy beitel my met jou swart oë en spits woorde
jy draai jou leiklipkop
jy lag en breek my tente op
maar jy offer my elke aand vir jou Here God.
jou moesie-oor is my enigste telefoon
jou huis my enigste bybel
jou naam my breekwater teen die lewe.

(deur Lily Kotzé, aan Naomi Leoni Kotzé, 12 Jul. 1949 - 16 Des. 2005)

Verdere Leesstof:

0 mense het al kommentaar gelewer: