Kroos,

Speeltyd Giertjies

11:41 CornflowerBlues 0 Kommentaar

Linnae het sulke "dingetjies" wat sy doen wat te kostelik is, en dit verander soos sy groter word. Een van haar giertjies deesdae (van so 7 maande af) is om goed te blaas: sy sit haar mond op dit en blaas dat mens net spoeg en borrels sien spat, met bygeluide (dit klink so "ghhhhwwww").

Hier is 'n 10 minute deursnit van mat-tyd:


  1. Sy begin gewoonlik in 'n sittende posisie.
  2. 5 minute later is sy op haar hande en knieë, reg om te begin kruip (iets wat sy nog nie kan doen nie).
  3. Na 'n lang beraadslaging van, "Gaan ek? Gaan ek nie?" en 'n vorentoe/agtertoe gewieg, split daai beentjies en land sy plat op haar maag. Dan begin die halfhartige kreungeluidjies in die hoop dat mamma hierdie probleem oplos. (Dis haar "Mamma tel my regop dat ek kan staan!" gesiggie). Maar voor jy haar jammer kry...
  4. Sy't al klaar vergeet wat sy wou doen, want die mat is net te aanloklik, en al wat jy dan sien is spoeg en "ghhhhhwwwww" soos sy die mat blaas.
  5. "Maar wat is dit? Iets wat blink!"
  6. "Ghhhhhhwwwwwww!" (teen die badjie se rand).
  7. "Maar wat is dit? Balle!" (Die badjie word getiep dat die balle uitrol). 
  8. Probeer al die balle wat binne bereik is optel en blaas. Meeste stoot sy weg, maar die paar wat sy raakvat word almal geproe en geblaas voor sy 'n volgende bal gewaar. Dit hou aan tot sy óf almal laat wegrol het, óf iets anders haar aandag vang, soos die mat in die geval. 
  9. Herhaal stap 4.

Verdere Leesstof:

0 mense het al kommentaar gelewer: