Oop brief aan my glimlag kind
![]() |
| Aiden op Voëlklip strand, Hermanus. (9 Nov. 2015 – 9½ maande) |
Liefste Aiden,
Jy is my vreugdeskind, my lag baba. Elke keer wat jy glimlag dan loop my beker oor. Die beste deel van my dag is wanneer ons speel en jy lag so lekker uit jou maag uit — dis die wonderlikste ding vir 'n mamma, om te weet ek het daardie uitdrukking van suiwer genot op jou gesiggie gesit!
Jy glimlag maklik en gereeld, maar moet nooit dink ek aanvaar dit as vanselfsprekend nie. Elke glimlag is kosbaar; elke laggie bêre ek in die skatkamer van my hart. Elke keer wat ek 'n herinnering daar uithaal voel ek oorweldigende dankbaarheid en vreugde.
Jy is my vreugdeskind, want jy bring 'n aansteeklike vreugde saam met jou pragtige gesindheid — my lewe is ryker en loop oor van vreugde vandat jy daarin is.
Ek is so dankbaar jy's myne. My Aiden, ek is vir altyd joune.
Liefde,
Mamma







Die eerste ding wat sy altyd sê is "Boom! Boom!". Wanneer ek die boom klaar geteken het, sê sy "Appel! Appel!" en wys na die boom. Dan moet ek 'n klomp appels in die boom teken. As daar 'n oop gaatjie op die blare is, sal sy daarop druk en "Appel!" sê tot ek al die gaatjies gevul het met appels.
.]
Dan druk sy haar vingertjie op die papier langs die appelboom en sê "Gwoot! Gwoot!" (=groot). Dan moet ek 'n groot appel langs die boom teken. Vir een of ander rede verskaf dit vir haar groot plesier, en spandeer sy eers 'n minuut of twee om om die beurt na die groot appel en klein appels te wys en te sê, "Gwoot!", en dan "Kyyyyyyyyn!" (=klein, gesê in so 'n hoë, piepstemmetjie terwyl sy die woord uitrek.)
Nou vir die volgende prentjie, wat enigiets kan wees, van blomme na vrugte na familielede. Op hierdie kunswerk was Oupa eerste. Sy't vir my die geel koutjie aangegee en gesê "Oupa! Oupa!". Ek het haar probeer aanmoedig om ook te teken, en dis hoe ons by #4 uitgekom het.
Daardie bruin gekrap is Oupa se hare. Ek het soos gewoonlik met 'n sirkel begin vir die gesig en toe die mond en oë gedoen. Ek was nog besig daarmee, toe begin sy met die bruin koukie Oupa se hare invul, want Linnae hou daarvan om nuttig te voel. Maar sy het ook 'n behoefte aan orde, en toe sy sien haar poging lyk nie soos Mamma s'n nie, was sy glad nie beïndruk nie, en ek kon haar nie weer oortuig om my te help teken nie
.
Toe kom die res van die mense. Sy sal hul naam so twee keer uitroep en dan wys op die papier waar ek hul moet teken. Gewoonlik is die volgorde totaal random, en die mense wat sy kies verskil van prent tot prent. Sy vra baie keer dat ek Gloria moet teken, terwyl dit die eerste en laaste keer was wat sy ooit vir Connor gevra. Ek probeer ook om die mense verskillend te teken. Ek teken bv. baie keer vir Pappa (Johan) in sy swemklere met 'n body board in die hand, of vir Ouma (Estelle) met 'n emmer en grafie (omdat hul altyd saam strand toe gegaan het) of met haar selfoon in die hand (want sy was nooit sonder die ding nie—as sy nie besig was om 'n speletjie daarop te speel nie, het sy vir Linnae video's daarop gewys).
Ek was nog besig met die figure, toe begin sy om versigtig 'n plakker op elke persoon te plak. Ek vra toe vir haar wat dit is, en sy sê, "Boekie! Boekie!" So, elke persoon het 'n boek gekry om te lees.



