Troeteldiere

Ons nuwe twee katjies, Missy en Chino 2

00:40 CornflowerBlues 0 Kommentaar

Ons het op Woensdag, 9 Desember 2009, ons twee nuwe katjies by die SPCA gaan haal. Hulle is sussies en 6 maande oud. Hulle is die oulikste oulik!!!!!


Die enetjie is 'n grys tabby wat baie lyk soos Chino, en is dadelik Chino die Tweede gedoop (geskryf "Chino II", maar ons noem haar net Chino). Sy is rustig en versigtig en baie slim. Die ander een, Missy, het so 'n roeskleur in haar pels. Sy is spelerig en impulsief en verskriklik liefdevol. Haar naam was oorspronklik Whiskey, maar die naam pas haar nie rêrig nie, so ons werk nog aan 'n goeie naam (sy was al Honey, Whiskers, Missy, Muffin (Ma Elna se poging :p) Prinses, ens.). Hoewel ek dink Missy haar die beste pas, mag dit dalk in die toekoms verander.


Chino weet sy't 'n huis gekry; dis die gesiggie van 'n baie tevrede kat!

Missy het haarself tussen Johan se bene ingewriemel en net daar aan die slaap geraak :)

Missy maak gereed om my 'n nat-neusie-soen te gee. Sy is so liefdevol en wil die heeltyd ge'cuddle' word. Sy's ook vreeslik spelerig en 'n soentjie kan maklik in 'n neus-hap ontaard!

Ek is baie bly dat ons hulle beide gevat het. Hulle speel so lekker saam en kom vreeslik goed oor die weg. Dis so snaaks om hul te sien wanneer hulle aandag soek of bo-op mens kom lê -- hulle sal sommer so bo-oor mekaar klim en net daar op die ander een se gesig neerplak... dan wriemel die ander een bloot haar neus onder haar sussie se lyf uit (om te kan asem haal) en slaap verder.
"Jy's my gunsteling teddiebeertjie!"

Hul gunsteling lêplek is -- natuurlik -- Homo Sapiens, en in die volgende volgorde: gesig, skouers, gesig, bors, gesig, arms, gesig, skoot, gesig, enige liggaamsdeel wat nog nie genoem is nie, en gesig. O ja, het ek 'gesig' genoem?

As 'n Homo Sapiens nie beskikbaar is nie, dan is 'n tweede (maar definitief minder gesogde) opsie watookal daardie Homo Sapiens mee besig is (soos die stoel hier bo -- Johan het letterlik 'n oomblik voor die foto geneem is nog daar gesit, of my rekenaar hier onder; ek moes elke nou-en-dan Missy se poot/oor/stert/hele lyf van my keyboard en mouse pad afhaal, LOL).

Dalk moes hul Yin/Yang gewees het — kyk hoe lê hul opgekrul binne mekaar

Spot the cat. ("Where's Wally... I mean Chino?")


Die foto hier bo is natuurlik van Chino in die gesogde klere-grot, daardie "stukkie paradys wat, vir redes onbekend, altyd weggesteek word agter groot houtdeure". Maar moenie vrees nie; Chino II wéét van infiltrasie! Geen Homo Sapiens sal haar van hierdie stukkie kathemel af weghou nie! Soos ek gesê het, Chino is die slim een. Sy het ons fyn dopgehou die hele tyd, en geen geleentheid ontglip haar wakker ogies nie :)

Verdere Leesstof:

0 mense het al kommentaar gelewer: